Friday, 27 October 2017

Oordenking - met God

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

MET GOD

En Henog het met God gewandel (Gen. 5:24, OAV).

Iemand vertel van ‘n persoon wat hom telkens herinner aan sy boesemvriend van sy studentejare wat vroeg oorlede is. “As ek jou sien,” sê hy dan, “dink ek aan Jan. Waar jy geloop het, het Jan geloop, en waar Jan geloop het, was jy saam. Altyd saam.”

Dit was so: hulle het in dieselfde dinge belang gestel, oor die­selfde dinge geredeneer, dieselfde vakke geloop, dieselfde ont­spanning geniet, vir dieselfde grappies gelag. Wanneer hulle van mekaar of weg was, sou hulle skielik die gevoel kry wanneer iets met die ander nie reg was nie. Hulle het ook soms hulle uitvalle ge­had, maar dit altyd met 'n onmiddellike begrip en humor weer herstel.

Henog wat “met God gewandel” het, of soos die ander verta­ling minder digterlik sê, “naby God geleef” het, was eintlik God se boesemvriend vir sy lang aardse lewe. Waar Henog was in gedagte, emosies, gees, fisieke teenwoordigheid, was God. En menslik gesproke waar God, die groot Teenwoordigheid, was, was Henog.

Dis 'n grootse, mistieke saamwees van 'n liefdevolle Skepper en 'n geliefde mens. Henog het dalk op merkwaardige wyse meer as ander iets oorgehou van die bewussyn van God wat hy voor sy geboorte ervaar het, iewers in die ewige gedagtes van die Almagtige. Ons almal word met hierdie bewussyn gebore, maar dit vervaag soms heel gou.

Van Henog se geskiedenis word min vertel, behalwe dat hy met God “gewandel” het. Maar wat 'n geskiedenis is dit nie!

God was gedurig in Henog se geselskap. God, as ons dit so wil hê en daarom vra, is gedurig in ons geselskap. Hy luister, Hy hoor, Hy help, en ons hoop Hy geniet ons teenwoordigheid (soms), soos ons sy teenwoordigheid mag geniet.


Friday, 20 October 2017

Oordenking - Ek wil vir jou 'n toekoms gee

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Ek wil vir jou ‘n toekoms gee

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Dan sal julle My aan­roep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. (Jer. 29:11, 12)

Terwyl die Jode in ballingskap in Babel sit, skryf die profeet Jeremia vir hulle 'n brief: God het vir hulle 'n toekoms en 'n verwagting in gedagte.

Hulle sal Hom aanroep, tot Hom bid en Hy sal hulle gebede verhoor. Dit het vanselfsprekend ingehou dat die ballinge dus nie alleen met hulle hartseer verlede moes besig bly nie, en selfs ook nie moes vaskyk teen die situasie waarin hulle op daardie oomblik verkeer het nie. Dit is die Here wat hulle toekoms in sy hand hou, en dit kon hulle moed gee.

Presies dieselfde geld vir my en vir jou wat in die Here glo. Ons weet mos dat die Here nie vir ons teenspoed in gedagte het nie. Ons weet mos dat sy oor nie te traag is om te hoor nie, en dat sy arm nie te kort is om te help nie. Ons kan dan ook met blydskap die nuwe toekoms wat Hy vir ons elkeen in gedagte het, tegemoet lewe.

Jy sal moontlik lang lyste kan opstel oor dinge uit jou verlede wat nie so lekker was nie. Jy sal egter ewe lang lyste kan opstel van dinge wat die Here vir jou in die toekoms in gedagte het, en waarvan Hy in sy Woord skrywe. 'n Mens se eindbestemming is vir die Here van veel groter belang as jou herkoms. Moet dan nie voortdurend besig wees met die vraag: "Waarvandaan kom ek?" nie, maar: "Waarheen is ek op pad?"

Om vas te hou en te glo aan 'n wonderlike toekoms wat die Here vir jou in gedagte het, gee duidelike rigting aan 'n mens se lewe. Anders kan jy maklik met jou voet in die slagyster van gister se mislukkings bly vassit. Met die toekoms wat die Here vir jou droom in gedagte, is daar 'n groter gerigtheid in jou lewe. Anders gesê: jy kan nou al reeds 'n stukkie van die toekoms belewe. Elke dag. Vandag ook.