Friday, 6 November 2015

Oordenking - Kritiek op die kerk


 
Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
KRITIEK OP DIE KERK
“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?" (Matt. 7:3)
Die kerk beland soms ernstig in die spervuur. Allerlei beskuldigings wat wissel van "dood" en "koud" tot by "uit pas met die moderne lewe", word teen die kerk geslinger. Dikwels is sommige van die beskuldigings ook waar. Daar is egter twee dinge wat ons moet onthou wanneer ons die kerk kritiseer.
Eerstens moet ons onthou wie die kerk is. Dit is mense. Dit is ek en jy. Elke beskuldiging teen die kerk is 'n beskuldiging teen onsself. Elkeen van ons kan 'n verskil maak en kan daartoe bydra dat die kerk verander. Die kerk is nie 'n statiese saak nie, maar is 'n dinamiese organisme waar daar verandering en groei kan kom. Elke gelowige is in die vermoë om daardie groei aan te help. 'n Mens wat werklik in 'n gemeente diensbaar word, oefen die invloed uit dat ander gelowiges ook diensbaar word. 'n Enkele toegewyde gelowige kan 'n verskil maak.
Ons moet nog iets onthou. Al is die kerk vol foute, verkeerd, uit pas en dood, is die kerk nog steeds die Here Jesus s'n. Omdat die kerk aan Hom behoort, kan die Heilige Gees die gebrekkige kerk gebruik om die koninkryk te bou. Die Here Jesus skryf nie die kerk af nie, nee, Hy het die kerk met sy bloed gestig. Daarom moet ons oppas om nie beter as Jesus te probeer wees deur die kerk af te skryf nie.
 
 
 
Miskien moet ons, in ons kritiek teenoor die kerk, Matteus 7:1-3 onthou:
"Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?"

No comments:

Post a Comment