Friday, 28 July 2017

Oordenking - Rykdom deur armoede

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

RYKDOM DEUR ARMOEDE

2 Kor 8:7-15

"Hy het ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word" (9). Watter vreemde gedagte! Volkome onbegryplik, selfs onlo­gies: dat 'n mens kan ryk word deur iemand anders se armoede? Om dit te kan verstaan, moet ons gaan kyk wat Paulus besig is om hier aan die gemeente in Korinte te skryf. Uit die brief in die geheel is dit duidelik dat Korintiërs 'n gemeente met besondere gawes was. Paulus begin sy betoog dan ook deur te se: “Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer ...” (8:7).

Maar soos wat dit dikwels met 'n gemeente gaan wat alles in oorvloed het, was hulle so be­sig met allerhande grootse en belangrike dinge, dat hulle op hulleself en die dinge wat hulle doen, begin fokus het. Toe vergeet hulle dat God hulle al hierdie wonderlike dinge geskenk het, nie as 'n manier waarop hulle hulself kan verryk nie, maar as 'n manier waarop hulle gesante van God in die wêreld kan wees.

Dit is egter geweldig belangrik om te let op die rede waarom Paulus hulle tot liefdeswerk aanspoor. Dit is nie iets wat hulle in eerste instansie vanuit hulle oorvloed óf uit skuldgevoelens moet doen nie; nee, dit moet 'n refleksie wees van die liefdeswerk van Jesus Christus. Want Christus het uit liefde die hemelse rykdom en heerlikheid verlaat om deel te word van ons wêreld van armoede. Deur sy menswording het Hy sy heer­likheid by wyse van spreke “opgeoffer” ter wille van ons (9).

Daarom: wanneer ons deur die geloof deel van die gemeenskap van die gelowiges word, ontvang ons die heerlikheid of die rykdom van Hom wat dit nie vir Homself gehou het nie, maar dit ter wille van ons uitgestort het. In Bybelse taal sê ons dat Christus Hom ontledig het, Hom leegge­maak het. Hoekom? Sodat ons vol kan raak van dit wat Hy uitgestort het. Van sy liefde, ja, maar ten diepste: vol van Homself. Dit is wat die wêreld in ons moet sien, en in ons dade moet ervaar.