Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
RYKDOM DEUR
ARMOEDE
2 Kor
8:7-15
"Hy het ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede
ryk kon word" (9). Watter vreemde gedagte! Volkome onbegryplik, selfs onlogies:
dat 'n mens kan ryk word deur iemand anders se armoede? Om dit te kan verstaan,
moet ons gaan kyk wat Paulus besig is om hier aan die gemeente in Korinte te
skryf. Uit die brief in die geheel is dit duidelik dat Korintiërs 'n gemeente
met besondere gawes was. Paulus begin sy betoog dan ook deur te se: “Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer
...” (8:7).
Maar soos wat dit dikwels met 'n gemeente gaan wat alles in oorvloed
het, was hulle so besig met allerhande grootse en belangrike dinge, dat hulle
op hulleself en die dinge wat hulle doen, begin fokus het. Toe vergeet hulle
dat God hulle
al hierdie wonderlike dinge geskenk het, nie as 'n manier waarop hulle hulself
kan verryk nie, maar as 'n manier waarop hulle gesante van God in die wêreld
kan wees.
Dit is egter geweldig belangrik om te let op die rede waarom Paulus hulle tot liefdeswerk aanspoor. Dit is nie iets wat hulle
in eerste instansie vanuit hulle oorvloed óf uit skuldgevoelens moet doen nie;
nee, dit moet 'n refleksie wees van die liefdeswerk van
Jesus Christus. Want Christus het uit
liefde die hemelse rykdom en heerlikheid verlaat om deel te word van ons wêreld
van armoede. Deur sy menswording het Hy sy heerlikheid by wyse van spreke “opgeoffer”
ter wille van ons (9).
Daarom:
wanneer ons deur die geloof deel van die gemeenskap van die gelowiges word,
ontvang ons die heerlikheid of die rykdom van Hom wat dit nie vir
Homself gehou het nie, maar dit ter wille van ons uitgestort het. In
Bybelse taal sê ons dat Christus Hom ontledig het, Hom
leeggemaak het. Hoekom? Sodat ons vol kan raak van dit wat Hy uitgestort het.
Van sy liefde, ja, maar ten diepste: vol van Homself. Dit is
wat die wêreld in ons moet sien, en in ons dade moet ervaar.
No comments:
Post a Comment