Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
DIE HERDER-HEER
2 Sam
5:1-5, 9-10
Dit is haas onmoontlik vir
enige Nuwe-Testamentiese leser om nie reeds die spore van die Messias in die
verkiesing en die lewe van die messiaanse koning Dawid raak te lees nie. Dit
was immers Jesus wat van Homself gesê het dat Hy die goeie herder is, dat Hy sy
lewe vir sy skape aflê (Joh. 10:11).
Dit is, soos ons in die
lewe van Dawid gesien het, iets besonders as iemand dit regkry om van die
bewaker van skape te vorder tot die leier van 'n land. Dit is in elk geval iets
wat die meeste van ons so iemand sal beny. Wat ons iemand nie sal beny nie en
een ding waarheen niemand waarskynlik sal aspireer nie, is om te "vorder"
van heerser na herder.
In sekere sin is dit wat
met Jesus se koms na die wêreld gebeur het. Maar ook net in sekere sin, want
die Heer wat in die gestalte van 'n herder gekom het, was van ewigheid af 'n
Herder. Hy was van ewigheid af die Een wat besorg is oor sy handewerk, oor sy
skepsels. As Hy Hom openbaar as die Herder-Heer, dan is dit juis in hierdie oënskynlike
teenstrydigheid wat Hy Hom kenbaar maak soos wat Hy is. Jesus is die ware
herder, die toegewyde Herder, vir wie dit ten diepste aankom op die welstand en
die veiligheid van sy skape. Maar Hy is ook die Heer, die Kurios, die
Een aan wie alle mag in die hemel en op die aarde gegee is (Matt. 28:18).
En hierin, in hierdie openbaring van wie Hy is, is
alles vervat wat die lewe vir ons 'n sinvolle onderneming maak. Want dit sê dat
die God wat die heerser oor die hemel en die aarde is, ook dieselfde God is wat
begaan is oor ons lot. Die God wat regeer, is die God wat waak. Die God wat
die lewe gee, is terselfdertyd die God wat die liefde gee.
Daar is iets ongelooflik vertroostends aan hierdie
wete: die Een wat my lewe in sy hande hou, is terselfdertyd die Een wat die
meeste vir my omgee.
No comments:
Post a Comment