Friday, 13 April 2018

Oordenking - Ek is vir God spesiaal


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

EK IS VIR GOD SPESIAAL

Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U
gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van
my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe
ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. Psalm 139:14
-15

In Psalm 8 het die digter hom al daaroor verwonder dat God so 'n spesiale  plek vir die mens in sy skeppingsplan het. En hier in Psalm 139 staan hy voor homself as 'n indiwidu in verwondering! Ja, ek is vir God baie spesiaal. Nie die mens in die algemeen nie, maar ek in besonder. Reeds toe ek nog 'n embrio was, was die hand van God in my lewe werksaam. Watter oorweldigende gedagte!

Dit bly een van die onbegryplike wonders, naamlik dat God met elke mens 'n persoonlike saak het. God is nie maar net 'n ontoeganklike Oppergesag nie. Hy is 'n God wat met my persoonlik in 'n verhouding wil staan. Ek is vir God belangrik. En alhoewel God gees is, is Hy as 'n lewende persoon in my lewe teenwoordig. Ek kan met Hom praat en na Hom luister. En sodra ek hierdie wonder vir myself toegeëien het, kan ek na die wêreld rondom my kyk en weet dat elke ander mens vir God belangrik is. Elke ander mens wat in 'n groot winkelsentrum by my verbystap kan op 'n gegewe oomblik in verwondering bely: “Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.”

Jy kan gerus nou vir God loof oor die wonder wat jou naam en van dra. En dank Hom dat Hy elke oomblik oor jou waak omdat jy vir Hom kosbaar is.


No comments:

Post a Comment