Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
MEDEWERKER VAN GOD
Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste
mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit
te voer (Fil 2:12-13)
Dit is 'n oorweldigende gedagte, tog vol van inspirasie en
besieling: God werk in jou! Die uitdagende vraag is of jy met Hom saamwerk en
of jy in sy pad staan?
Jy mag vaagweg bewus wees van jou lewensdoel, maar dit mag
net nie sterk genoeg wees om op die uitgestippelde pad te loop wat God beplan
het nie. Dan leef jy 'n lewe volgens eie wil en keuse en nie na die wil van God
nie. Hierdie selfgekose pad lei noodwendig na ontevredenheid en frustrasie. Jy
ploeter voort in eie krag op 'n pad wat jou eie blinde hart beplan het, meer
bewus van die neerlae as van glorieryke oorwinnings. Die lewe self verloor sy glans en verval in
'n vale alledaagsheid.
Wanneer jy met oortuiging erken dat God in jou werk, en jy
onwrikbaar besluit om aan Hom gehoorsaam te wees in alle sake, word jy 'n
medewerker van God in die kuns om te lewe. As dit gebeur, vind ongelooflike en
onverwagte dinge in jou lewe plaas. Wat voorheen struikelblokke was, word nou
skielik geleenthede op jou pad wanneer jy aan God se hand die toekoms inbeweeg.
Here Jesus, Leidsman en Voleinder, gee aan my
toewyding, oorgawe en
'n gewillige oor vir u bevele, sodat ek
voortdurend u wil vir my lewe sal ken.