Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
VERTREKPUNT NA MÔRE
Ek is by jou en Ek sal
jou beskerm waar jy ook al gaan (Gen 28:15)
Vandag is 'n beginpunt,
'n vertrekpunt! Die beslissings wat jy vandag maak, kan al die mores van jou
lewe beïnvloed. Dit is alleen wanneer jy 'n suiwere waardebepaling van elke
afsonderlike dag maak, dat jy konstruktief vir die toekoms kan bou. Hierdie
soort bouwerk vereis 'n plan. Dit is noodsaaklik dat jy doelwitte in die lewe
sal hê om jou daarvan te vrywaar dat jy 'n reisiger na nêrens word.
As jy 'n lewe wil leef
wat die moeite werd is, moet jou ideaal of doelstelling groot
genoeg wees om as uitdaging te dien om bo jouself uit te styg en dit doelgerig
na te streef. Moenie vrees om iets nuuts en moeiliks aan te pak nie. Dit is die
enigste pad waarlangs jy bevrediging sal ken en wat jou geestelik sal versterk
en laat groei in geloofsoortuiging.
Jou elkedagse taak skep
vir jou onbeperkte geleenthede om jou geloof in 'n altyd-teenwoordige God te
beoefen. Dan word jou taak, hoe nederig ook al, 'n roeping.
Jou geloof word dan 'n
praktiese werklikheid wanneer jy God se wil na streef daar waar Hy jou geplaas het. Dan is dit nie maar
net 'n emosie wat vir Sondae gereserveer word nie. Dit motiveer jou om al jou talente
in sy diens te stel. Daarby leef jy in die wete dat Hy jou sy bystand en
beskerming vir elke dag belowe. Dan leef jy elke dag met God, vir God!
Leer my daagliks om u wil te doen en u pad te loop, goeie Meester, sodat
ek my plig met vreugde sal doen en u doel met my lewe sal bereik.
No comments:
Post a Comment