Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Naby die Woord; ver van
die Kwaad
Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie
dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie. Psalm 119:133
Hoe nodig het ons dit nie dat ons hierdie gebed in alle opregtheid sal bid nie!
As kind het iemand vir my 'n kaartjie gegee om voor in my Bybel te plak:
"Hierdie boek hou jou weg van die duiwel, of die duiwel hou jou weg van
hierdie boek." In die eenvoudige spreuk lê 'n tydlose waarheid opgesluit.
Daar is so baie dinge wat ons omgang met God se Woord blokkeer. Ek weet nie of
die duiwel altyd die skuld moet kry nie; hoe dikwels is dit sommer net my eie
luiheid of selfsugtige motiewe wat maak dat die Bybel stof vergaar nie.
Die beste raad is om by die eerste deel van die teksvers
te begin. Ten einde te sorg dat die Here se Woord my op die regte pad hou, moet
ek met die Woord besig bly, dit lees en oordink en in my elkedagse lewe toepas.
Die Here sal deur sy Woord aan die woord kom as ek vir Homn 'n spreekbeurt
toelaat. Ons maak so maklik tyd vir so baie ander sake op ons agenda. En ons
skeep ewe maklik ons stiltetyd af. Wil jy nie 'n slag ernstig bestek neem van
die tyd wat jy aan Bybelstudie en gebed afstaan nie? As jy jou padkaart en
navigator ken, sal jy nie anders kan as om op die regte pad te bly nie.
En
dan vir die tweede helfte van die teksvers. Die kwaad sal nie die oorhand kry
as ek dit met die Woord beveg nie. So het Jesus mos self vir ons geleer toe Hy
deur die duiwel versoek is.
No comments:
Post a Comment