Monday, 18 January 2016

Oordenking - jy word 'n woonplek

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.


JY WORD ‘N WOONPLEK

"Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid…(J)ulle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees." (Joh. 14:16, 17)

het jy opgemerk hoe dikwels ons navraag doen oor adresse, vergaderplek­ke, lokale? Die belangrikste vraag op aarde is: "Waar is God?"

Op hierdie vraag is daar baie antwoorde en elkeen van hulle is waar. God is oral (vgl. Ps. 139:7-12). God is in die plek van ontoeganklike lig (vgl. 1 Tim. 6:16). Hy is in die heiligdom in die hemel (vgl. Heb. 10:19, 20). Hy is naby almal wat Hom in opregtheid aanroep (vgl. Ps. 145:18). Hy woon by die wat Hom liefhet (vgl. Joh. 14:23). Hy staan in elke kerk op aarde (vgl. Op. 1:12). God se Seun is besig om vir ons plek gereed te maak in die huis van die Vader (vgl. Joh. 14:2). Hy is in die hemel bo ons (vgl. Luk. 24:51). Hy woon in heiligheid en onbeskryflike majesteit; sy heerlikheid is so ontsagwekkend dat die mens Hom nie kan sien sonder om te sterf nie (vgl. Eks. 33:20 en Eseg. 1:25-28). En Hy woon in jou (vgl. Joh. 14:17; 1 Joh. 4:16 en 1 Kor. 6:19). God die Vader is God-vir-ons. Jesus is God-met-ons. Die Heilige Gees is God-in-ons.


Hoe min van ons leef in hierdie geweldige en lewensveranderende werklikheid! Leef jy al daarin? Die gelowige wat in hierdie sekerheid leef, dink anders oor eet en drink, oor sy seksuele lewe; oor die boeke wat hy lees, die musiek waarna hy luister. Hy leef anders: in 'n blydskap wat van die Gees van blydskap afkomstig is; hy leef kragtig, hoop, liefdevol en in vrede. Nou is dit nie meer hy wat leef (regeer, saak maak, besluit) nie, maar Christus wat in hom lewe (vgl. Gal. 2:20).

No comments:

Post a Comment