Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Spieëltjie, spieëltjie..
God
het die mens geskep as sy verteenwoordiger; as beeld van God het Hy die mens
geskep, man en vrou her Hy hulle geskep. (Gen. 1:27)
Hoe sien jy
jouself? Die manier waarop 'n mens na jouself kyk, is baie belangrik. Iemand
kyk byvoorbeeld in 'n spieël na homself, en sê: "Kyk hoe lyk my hare, ek
wou graag lang, raafswart hare gehad het. En my neus! Ek wou graag 'n netjiese,
aristokratiese neus gehad het."
Ek en jy kan
egter op 'n heel ander manier na onsself kyk. Jy is miskien nou wel nie die
mooiste persoon in julle omgewing nie, maar as jy in God glo, is jy volgens die
Bybel sy verteenwoordiger, sy beeld-draer.
Dis nie so
maklik om te sê wat die Bybel presies bedoel wanneer daar staan dat ons God se verteenwoordiger
en sy beeld is nie.
Een ding is egter seker: dit beteken nie dat ons presies net soos God is nie.
Ons lyk ook nie presies soos Hy nie. Dat daar egter iets van Hom in
ons afgedruk is, kan niemand betwyfel nie. Hy is byvoorbeeld sondeloos, ewig en
onbeperk — en dit is ons natuurlik nie. Ons het selfs die moontlikheid om
anders te doen en te besluit as wat die Here graag wil hê. Die beste
waarop ons kan hoop, is om iets van sy wese en sy heerlikheid te weerspieël in die
manier waarop ons liefde, geduld, vergifnis, goedheid en trou openbaar.
Dit is nietemin
van baie groot waarde dat ek en jy mag weet dat ons God se verteenwoordigers en
sy beelddraers in die wêreld is. Sê vir jouself: "Jy is God se
verteenwoordiger. Jy is God se beeld in hierdie wêreld. Tree dan so op!"
Dan kry jy
sommer moed en waardering vir jouself. Nie omdat jy as sodanig iets besonders
is nie, maar omdat God jou besonders gemaak het. Dit gee mens sommer 'n bietjie
moed vir jouself, en dit laat jou met ander oë na jouself kyk.
No comments:
Post a Comment