Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Jy kan verander
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word
nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle
ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en
volmaak is. (Rom. 12:2)
'n Man het my nou die dag kom sien. Hy wil graag soos
sy swaer wees. Hy vertel my dat sy swaer 'n voorbeeldige man is, hardwerkend en
pligsgetrou. "Sy beste eienskap", sê my besoeker, "is dat 'n
mens werklik die Here Jesus in sy lewe kan sien." Hy vertel my toe hoe
dikwels hy self al probeer het om soos sy swaer te wees, maar dit werk net nie.
Natuurlik sal dit nie werk nie. Só oppervlakkig is
werklike verandering nie. Die verandering moet in 'n mens se hart plaasvind.
Gelukkig weet ons almal dat 'n mens nie daardie verandering in eie krag teweeg
kan bring nie.
Paulus gee goeie raad. Hy sê dat God 'n mens verander
deur jou denke te vernuwe. Anders is dit maar net oppervlakkige nuwe gewoontes
wat jy wil aanleer, en sal jy niks beter daaraan toe wees nie as die Jode wat
met 'n goeie lewe God se guns probeer wen het.
Wat is die gewoontes, eienskappe in jouself, gedagtes
en dade wat jy graag in jou eie lewe verander sou wou hê? Hoe dikwels het jy al
probeer om dit self te verander? Mag ek jou vra: Het jy al ooit daarmee na die
Here toe gegaan? Dis alleen Hy wat jou hart en jou denke totaal kan omkeer en
vernuwe! Dis eers wanneer 'n mens se binnekant anders begin lyk dat dit ook
uiterlik begin sigbaar word. Die Here wil dit ook vir jou doen. Hy wil jou al
meer gelykvormig aan sy beeld laat wees. Laat Hom toe om dit ook vir jou te
doen.
No comments:
Post a Comment