Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
‘n Getuie op jou siekbed
Toe
Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie,
maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van
God daardeur verheerlik kan word.” (Joh 11:3)
Siekte is een van die dinge
wat spanning die hoogte kan laat inskiet. Veral as jy bekommerd is dat die
simptome wat jy op die oomblik ondervind dalk maar net die punt van die ysberg
is.
As Maria en Marta se broer, Lasarus,
ernstig siek word, is die eerste ding wat hulle doen om vir Jesus daarvan te
laat weet. Maar wat doen Jesus? In plaas daarvan dat Hy sy vriende te hulp
snel, wag Hy totdat Lasarus reeds vier dae dood is, voordat Hy by Marta en
Maria se huis in Betanië opdaag. Ek is seker dat die twee susters die baie
moeilik gevind het om hierdie onverstaanbare optrede van die Jesus te verwerk.
Hulle het goed geweet dat Hy hulle liefhet, en tog laat Hy toe dat hulle broer
sterf sonder dat Hy ‘n vinger verroer om te help.
Maar Jesus het ‘n goddelike
doel hiermee gehad: deur Lasarus se dood wil Hy sy mag oor die dood bevestig.
So sou Hy aan God baie meer eer gee as wanneer Hy hom net gesond sou maak.
Soms bring die Here siekte en dood
oor jou pad. Dinge wat jou stresvlak verhoog, onverstaanbare dinge wat jy met
jou menslike verstand nie kan verwerk of begryp nie. Maar as jy ten spyte van
hierdie dinge in jou lewe dit kan regkry om op God te bly hoop, om Hom
onvoorwaardelik te vertrou, sal Hy ook in jou siekte en seerkry sy mag
openbaar, sodat die mense wat jou sien, versterk sal word en Hom sal
verheerlik. So kan jy selfs op jou siekbed ‘n stralende getuie van sy
heerlikheid wees. Sal jy probeer om dit te doen?