Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
God is groter as jou depressie
"…ek word deur angs oorval; my aansien het soos
wind weggewaai, my hoop op uitkoms het soos ‘n wolk verdwyn. Nou is daar geen
hoop meer vir my nie, ondergang staar my elke dag in die gesig." (Job
30:15, 16)
Mense wat aan depressie ly, ervaar ‘n verlies van
menswaardigheid en hoop. Hulle glo nie dat geluk ooit weer vir hulle beskore is
nie. Ons teksvers is ‘n pragtige beskrywing van die ervaring van ‘n
depressielyer. Of dit nie erg genoeg is nie, voel dit ook nog vir jou of God
nie meer dieselfde is nie. Of jou dringende gebede onbeantwoord bly, aldus Job.
Job het alles verloor wat vir hom dierbaar was: sy
kinders, sy gesondheid, sy besittings, sy vriende. Dit voel vir hom of daar
niks oorgebly het nie. Boonop kan hy nie verstaan waarom God hom so bykom nie,
want in Job se oë het hy niks verkeerd gedoen nie. Dis eers wanneer God self
met Job in gesprek tree, wanneer Hy vir Job wys hoe groot en almagtig Hy is,
dat Job sy onmag besef. Nou weet hy dat God Hom niks skuld nie (Job 42:3, 5,
6).
Wanneer Job besef hoe magtig God is, bely hy sy sonde,
en God luister na hom. Hy seën vir Job selfs meer as aan die begin. Miskien lê
die oplossing van jou eie probleem ook hier. Dat jy jou eie nietigheid teenoor
God se almag sal ontdek en Hom vra om jou depressie te lig. (Onthou net dat
depressie wat voortduur deur mediese hulp behandel moet word.)
No comments:
Post a Comment