Friday, 28 October 2016

Oordenking - God is liefde

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

God se liefde

Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. (1 Joh. 4:9)

“Julle sê dat God liefde is. Ek sien ongelukkig niks daarvan rondom my nie. Wat ek wel sien, is dood, haat en trane.” So het 'n ateïs op 'n keer oor God geskryf. Hy het die Christendom verwyt vir al hulle gepraat oor God se liefde, terwyl hy geen bewyse hiervan in ons deurmekaar wêreld kon vind nie.

Miskien het jy ook al gewonder hoekom God se liefde dan so wegge­steek word agter al die hartseer en ellende rondom ons. Is Hy regtig 'n God van liefde soos wat Hy sê? Ja, sê die Bybel op hierdie vraag, 'n duisend maal ja. Maar dan moet ons God se liefde reg verstaan. Dan moet ons dit verstaan soos wat Hy dit aan ons kom wys het:

God se liefde het vir Jesus van sy hemelse troon laat opstaan. God se liefde het Jesus slaweklere laat aantrek en Hom hiervoor bekroon met 'n kroon van houtdorings in plaas van 'n kroon van goud en diaman­te. God se liefde het veroorsaak dat Hy vir Jesus soos 'n vervloekte aan die kruis behandel het; Hom laat doodgaan het onder die gewig van ons almal se sondes sodat ons nooit weer hieroor gestraf sal word nie.

En dan vra mense nog so ewe of God regtig liefde is; Hy wat die hemele geskeur het, Hy wat die hoogste offer denkbaar betaal het sodat ons en Hy vir altyd vriende mag wees? Miskien verstaan ons nie meer wat God se liefde is nie omdat ons op al die verkeerde plekke hierna soek. Dalk moet ons weer ter harte neem wat Johannes in 1 Johannes 4:10 hieroor sê: Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.


Jy is voorwaar gelukkig as jy iets van God se liefde gesnap het.

Friday, 21 October 2016

Oordenking - Bemoedig mekaar

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Bemoedig mekaar

In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoe­dig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met die­selfde bemoediging waarmee God ons bemoedig ... (2 Kor. 1:4-5)

Een van die mees positiewe gevolge van depressie en stres, is die empatie en verstaan wat jy daardeur wen. Omdat jy presies weet hoe dit voel om sielsmoedeloos en depressief te wees, om daglank in hoogspanning te lewe, om te ervaar dat jy dinge hoegenaamd nie kan hanteer nie, sal jy na so 'n ervaring ook presies weet hoe om die hand uit te steek na hulle wat op die oomblik in dieselfde toestand verkeer. Omdat jy self daar was, kan jy nou ander help. En juis dit is die heel beste raad teen depressie.

Omdat jy bekend is met die simptome van stres en depressie, is jy ook in staat om hierdie simptome baie gou by ander mense te bemerk. Moet dan nie huiwer nie, bied jou hulp aan. Ander mense het jou nodig, al is hulle huiwerig om by jou om hulp aan te klop. Verseker daardie persoon van die dinge wat jy graag wou hoor toe jy bang en depressief was: dat jy hom liefhet en aanvaar net soos hy is, dat hy vir God kosbaar is, dat God by hom is en hom deur hierdie heersende krisis wil dra. Bied jou onder­skraging en vriendskap vir hom aan. En op 'n dag sal jy ontdek dat daardie persoon weer nuwe hoop vir die toekoms het.

“Daar vloei werklik baie seëninge uit die beproewings van die lewe vir hulle wat daardeur geoefen word,” skryf Esperance Kelber. “Een van die belangrikste is seker 'n hart wat vir ander voel. “As jou stres en depressie wat jy moes verduur daartoe gelei het dat jy 'n hart vir ander ontwikkel het, kan jy nou vir die Here daarvoor dankie sê”!


Friday, 14 October 2016

Oordenking - Jy mag maar hoop

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Jy mag maar hoop

Ons is immers gered en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. (Rom. 8:2425)

lemand wat aan depressie ly, staan nie net negatief teenoor homself nie, maar ook teenoor sy toekoms. Vir hom lyk dit of sy lewe nooit weer ge­lukkig of sinvol sal wees nie. Na die dood van sy vrou was die Engelse skrywer C.S. Lewis baie depressief. "Ek sien vir niks kans nie," skryf hy in hierdie stadium. "Om te skryf, selfs om 'n brief te lees, lyk vir my na 'n inspanning wat bo my mag is. Selfs om te skeer. Wat maak dit tog saak of my wange glad of vol stoppels is? Ek kan nou goed verstaan waarom 'n alleen­mens so maklik slordig word en homself afskeep. Waarom sal hy tog al die moeite doen?" (Uit: A Grief Observed.)

As jy jou met Lewis kan vereenselwig, as die toekoms vir jou ook uit­sigloos en sonder hoop voor jou uitstrek, moet jy besef dat jy tyd nodig het om jou huidige krisis te verwerk. In hierdie verwerkingsproses is dit be­langrik dat jy weer hoop in die lewe sal kry.

Om te hoop beteken nie dat jy die dinge waarop jy hoop nou reeds sal kan sien en ervaar nie. Hoop beteken juis dat jy sal glo in die dinge wat jy nie kan sien nie, dat jy God op sy Woord sal neem en aan elkeen van sy beloftes sal vashou, dat God self die bron van jou hoop sal wees. Jy mag maar hoop dat die hemel vir jou na hierdie swaarkry sal wag, omdat God dit vir jou in sy Woord belowe. Jou aardse lewe duur maar 'n kort rukkie, en daarom kan jou swaarkry ook nie vir altyd aanhou nie. Jy kan nog 'n rukkie uithou, omdat die Bybel jou verseker dat geen ondervinding ooit vir jou tevergeefs is nie, maar dat alles uiteindelik tot jou beswil saamwerk.