Friday, 14 October 2016

Oordenking - Jy mag maar hoop

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Jy mag maar hoop

Ons is immers gered en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. (Rom. 8:2425)

lemand wat aan depressie ly, staan nie net negatief teenoor homself nie, maar ook teenoor sy toekoms. Vir hom lyk dit of sy lewe nooit weer ge­lukkig of sinvol sal wees nie. Na die dood van sy vrou was die Engelse skrywer C.S. Lewis baie depressief. "Ek sien vir niks kans nie," skryf hy in hierdie stadium. "Om te skryf, selfs om 'n brief te lees, lyk vir my na 'n inspanning wat bo my mag is. Selfs om te skeer. Wat maak dit tog saak of my wange glad of vol stoppels is? Ek kan nou goed verstaan waarom 'n alleen­mens so maklik slordig word en homself afskeep. Waarom sal hy tog al die moeite doen?" (Uit: A Grief Observed.)

As jy jou met Lewis kan vereenselwig, as die toekoms vir jou ook uit­sigloos en sonder hoop voor jou uitstrek, moet jy besef dat jy tyd nodig het om jou huidige krisis te verwerk. In hierdie verwerkingsproses is dit be­langrik dat jy weer hoop in die lewe sal kry.

Om te hoop beteken nie dat jy die dinge waarop jy hoop nou reeds sal kan sien en ervaar nie. Hoop beteken juis dat jy sal glo in die dinge wat jy nie kan sien nie, dat jy God op sy Woord sal neem en aan elkeen van sy beloftes sal vashou, dat God self die bron van jou hoop sal wees. Jy mag maar hoop dat die hemel vir jou na hierdie swaarkry sal wag, omdat God dit vir jou in sy Woord belowe. Jou aardse lewe duur maar 'n kort rukkie, en daarom kan jou swaarkry ook nie vir altyd aanhou nie. Jy kan nog 'n rukkie uithou, omdat die Bybel jou verseker dat geen ondervinding ooit vir jou tevergeefs is nie, maar dat alles uiteindelik tot jou beswil saamwerk.


No comments:

Post a Comment