Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
God se liefde
Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na
die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. (1 Joh. 4:9)
“Julle sê dat God liefde
is. Ek sien ongelukkig niks daarvan rondom my nie. Wat ek wel sien, is dood,
haat en trane.” So het 'n ateïs op 'n keer oor God geskryf. Hy het die
Christendom verwyt vir al hulle gepraat oor God se liefde, terwyl hy geen
bewyse hiervan in ons deurmekaar wêreld kon vind nie.
Miskien het jy ook al
gewonder hoekom God se liefde dan so weggesteek word agter al die hartseer en
ellende rondom ons. Is Hy regtig 'n God van liefde soos wat Hy sê? Ja, sê die
Bybel op hierdie vraag, 'n duisend maal ja. Maar dan moet ons God se liefde reg
verstaan. Dan moet ons dit verstaan soos wat Hy dit aan ons kom wys het:
God se liefde het vir Jesus
van sy hemelse troon laat opstaan. God se liefde het Jesus slaweklere laat aantrek en Hom hiervoor bekroon
met 'n kroon van houtdorings in plaas van 'n kroon van goud en diamante. God
se liefde het veroorsaak dat Hy vir Jesus soos 'n vervloekte aan die kruis
behandel het; Hom laat doodgaan het onder die gewig van ons almal se sondes
sodat ons nooit weer hieroor gestraf sal word nie.
En dan vra mense nog so ewe of God regtig liefde
is; Hy wat die hemele geskeur het, Hy wat die hoogste offer denkbaar betaal het
sodat ons en Hy vir altyd vriende mag wees? Miskien verstaan ons nie meer wat
God se liefde is nie omdat ons op al die verkeerde plekke hierna soek. Dalk
moet ons weer ter harte neem wat Johannes in 1 Johannes 4:10 hieroor sê: Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die
liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons
sondes.
Jy is voorwaar gelukkig as
jy iets van God se liefde gesnap het.
No comments:
Post a Comment