Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Vol met vrede en blydskap
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle
geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan
word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom. 15:13)
Ons leef in 'n tyd waar die woorde: "Dit gaan
goed", nie te veel gebruik word nie. En waar mense dit wel gebruik, kom jy
in elk geval na 'n rukkie in hulle geselskap agter dat hulle dit nie te ernstig
bedoel nie, aangesien hulle ook maar steen en been kla oor al die swaarkry wat
die lewe na hulle kant toe aangee.
Iemand wat God se groot genade in sy lewe ontdek het, is
iemand wat egter 'n ander dimensie van die lewe leer ken het, en dit is dat
hulle innerlike mens, of hulle binnekant, of hulle hart, of hoe jy dit ook al
wil noem, onder splinternuwe bestuur staan. Hulle weet met ander woorde dat
hulle onder die beheer van die lewende God is wat hulle van binne af volgemaak
het met sy Heilige Gees. En hierdie wete maak mos die wêreldse verskil. Dit
maak die verskil tussen 'n lewe wat vol vrede en rustigheid is en 'n lewe wat
teen duiselingwekkende snelhede van die een leë plesier na die volgende
voortjaag op soek na sin en betekenis.
Ongelukkig veroorsaak die gejaagde lewe dat baie
Christene vandag hierdie innerlike dimensie van hulle lewe verwaarloos sodat
hulle op die ou end eintlik ook maar net so aan die ronddobber is soos al die
ongelowiges rondom hulle. Paulus bid daarom baie ernstig in Romeine 15:13 dat
gelowiges God se seën in hulle hart sal ervaar. Wanneer ek en jy ook begin om
hierdie gebed gereeld saam met hom te bid, dan raak ons lewe inderdaad al hoe
voller, nie met mismoedigheid en bitterheid nie, maar juis met God se vrede. Is
dit nie 'n wonderlike wete dat God wil hê dat ons moet deel in sy eie blydskap
en vrede nie. Hy wil juis hê dat ons reeds hier op aarde iets van sy eie
Persoon in ons hart sal ervaar.
No comments:
Post a Comment