Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
GESEËNDES VOEL
NOOIT ALLEEN NIE
En onthou: " ... Ek is
by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (Matt. 28:20)
Vergeet jy net so maklik
soos ek? Worstel jy ook soms met allerhande name en gesigte wat maar net nie
bymekaar wil uitkom wanneer jy skielik 'n bekende gesig voor jou sien staan en
jy nie die vaagste idee het waar jy hierdie persoon al ontmoet het nie?
Vergeetagtigheid
raak ook ons geestelike lewe. Omdat ons God se beloftes soms net so vinnig
vergeet as wat ons dit hoor, verbeur ons dikwels sy seën. Die gevolg hiervan is
dat ons dan met streepsakke vol ongelukkigheid en
kleingeloof deur die lewe moet worstel. Jesus weet dit maar alte goed. Daarom
het Hy in sy laaste preek op aarde beklemtoon dat ons een belangrike ding moet weet, en dit
is dat Hy by ons is, ons dit moet raaksien dat Christus elke dag ons metgesel
is tot wanneer die uurglas vir ons hier op aarde leegloop, en ook daarna
As daar
een ding is wat Jesus nooit sal doen nie, dan is dit om sy rug op sy kinders te
keer. Hy sê dat Hy tree vir tree by ons sal bly. Hy is elke dag by
ons net om doodseker te maak dat ons nie verdwaal nie. Dit geld natuurlik nie
slegs vir daardie dae wanneer ons naby aan Hom voel nie, maar ook vir daardie
tye wanneer dit voel of ons sterrestelsels ver van God of verwyder is. Maar
gelukkig hoef ons gevoelens nooit die barometer vir die hoeveelheid van God se
seën in ons lewe te wees nie.
As jy die Here se seëninge
regtig in jou lewe wil ontdek, dan moet jy leer om die regte dinge te onthou.
En dit is om verby jou gevoelens en omstandighede te kyk en vir Christus op sy
woord te neem as Hy sê dat Hy by jou is. Doen jy dit?
No comments:
Post a Comment