Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
DIS GOED VIR GOD
En God het gesien dit is goed (Gen.
1:10).
'n Besoekende Nederlandse politikus is
eenmaal deur sy gasheer in die Boland teen die
Paarlberg op geneem. Hulle het by 'n uitkykpunt naby die granietrotse stilgehou
om oor die vallei te staar. Dit was een van daardie besondere wintersdae wat
soos diamante blink na die reën. Die son het sag oor die landskap geskyn: die
rivier en die groen wingerde, die ver blou Drakensteinberge en die sneeutoppe,
die wasigheid van die groot damme in die vallei, die gekoesterde vrede.
Die politikus het gesê: “Nou begin ek iets verstaan van God wat na sy
skepping gekyk het en gesien het dat dit goed was.”
Daar is in die woorde 'n gedempte, tevrede, ewige opgewondenheid. God
het gesien dat sy plan werk en dit het Hom plesier gegee. Die plan moes immers
werk, want God is onfeilbaar, maar die onderdele van daardie plan wat in ruimte
en tyd moes funksioneer daardie onderdele is feilbaar. Soos wat die mens wat
Hy later sou skep, ek en jy, feilbaar sou wees.
By hierdie vroeë stap was God nog besig met die grondleggingswerk. Die
besonderhede het nog voorgelê. Maar namate alles onder sy hand ontwikkel het -
droë grond, plante, reptiele, voëls, diere, die mens - het God opgewonde gesien
dat dit vir Hom goed was.
Iets van daardie goddelike opgewondenheid
beleef ons wanneer ons iets doen en klaarmaak en ons sien dis mooi of dit
werk. Ons voel gewoon lekker daaroor. Om deur 'n harde stuk werk te worstel,
nie voor 'n uitdaging te skrik nie, 'n plantjie te plant of 'n medemens se hand
te vat - enigiets van tee maak tot 'n groot transaksie beding tot 'n kind help
met 'n som - dis alles deel van God se skepping wat voortgaan. En 'n mens
aanvaar Hy kyk na ons met belangstelling, liefde, begrip en betrokkenheid.
Waarom anders het Hy ons gemaak as om behae in ons te hê?
No comments:
Post a Comment