Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
SO WAS DIT
Dit
dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is (Gen. 2:4).
Een na die ander wonderlike geskape dinge het op God se woord uit sy
gedagte tot stand gekom. Die Bybel som die hele ontsaglike proses in 'n bietjie
meer as een hoofstuk op, eintlik om slegs een groot feit te beklemtoon: God
het dit gedoen. Presies hoe dit verloop het, is vir wetenskaplikes om na te
vors en vir filosowe om te bedink. Niks verander egter aan die feit dat dit God
is wat die gedoen het nie.
Twee akademici was eenmaal besig met 'n debat. Die een, 'n paleontoloog,
is gevra hoe oud die mensdom is. Hy het geantwoord dat daar nog in
wetenskaplike kringe hieroor geredekawel word, maar dis miljarde jare. Oor
hierdie antwoord was daar 'n lewendige bespreking, want selfs die wetenskap
gaan van voorveronderstellings uit en raai op sekere punte. Toe God in die
debat genoem is, is 'n volgende vraag aan 'n tweede professor, 'n medikus,
gestel: “As God iewers in die prentjie is, hoekom is daar soveel swak plekke in
die heelal? As die mens so wonderlik is, hoekom kry hy soms ongeneeslike
siektes?”
Die tweede professor het geantwoord: “Die
mens, slegs 'n stoffie in die skepping, bestaan uit legio selle, en elke sel is
weer ‘n wonderbare mikrokosmos van bewegende
deeltjies. As iets in slegs een van daardie swetterjoel selle begin skeefloop,
begin die proses van siekte. Die tragedie is dus nie dat mense terminaal siek
word nie. Die wonder is dat soveel mense niƩ siek word nie. En die verdere
wonder is dat, gedagtig aan die miljarde rampe wat moontlik kan gebeur, persentasiegewys
min gebeur en alles deur God op koers gehou word.”
God hou alles op koers, en vernuwe dit totdat Hy weer alles totaal nuut
maak. Die Bybel kon begin het met wetenskaplike formules wat min mense - indien
enige - kon verstaan. God verkies 'n eenvoudige verhaal soos Jesus die
gelykenis verkies het om 'n groot waarheid tuis te bring.
Die waarheid is: So was dit, so is dit, so sal dit wees. God is in
beheer, beslis ook van ons lewens, siek of gesond.
No comments:
Post a Comment