Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
MET CHRISTUS DIE
TOEKOMS IN
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Heb 13:8)
Die
onveranderlike Christus bring stabiliteit in die lewe van sy kinders. Dit
gebeur selde dat die lewe glad en sonder probleme verloop. Soms gaan alles
goed; dan skielik, sonder enige verklaarbare rede, duik probleme op. Die een oomblik
ry jy op die hoogtes van uitbundige blydskap en net die volgende oomblik strompel
jy deur die donker vallei van wanhoop.
Jy fluktueer
gedurig tussen die pole van hoop en wanhoop; van vreugde en droefheid. Daarom
het jy 'n stabiliserende invloed in jou lewe nodig — die lewende Christus.
Christus is ewig
en Hy verander nooit nie. Al is 'n mens temperamenteel en al wissel jou
gevoelens volgens die omstandighede waarin jy verkeer, ondervind jy 'n
ongekende standvastigheid as Christus die Koning en Here van jou lewe is en sy
Heilige Gees in jou woon.
Jy word nie
meer deur elke stormwind rondgeslinger nie. Daarmee saam kom 'n lewensvreugde
so groot dat dit nie onder woorde gebring kan word nie. Aan sy liefdevolle hand
gaan jy die toekoms moedig en selfversekerd tegemoet.