Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
REIK NA GOUD
In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die
ewige lewe as prys behaal (1 Tim 6:12)
“Reik na Goud” was die leuse van die Amerikaanse span by
die Olimpiese Spele van 1984. Net die beste sou vir hulle goed genoeg wees.
Elke
mens het die begeerte om sukses te bereik. Niemand wil graag misluk nie. Waarom
is daar dan soveel wat misluk?
Dis verbasend hoeveel mense sonder 'n lewensdoel
voortdryf. Omdat hulle niks van die
lewe verwag nie, gee die lewe aan hulle niks terug nie.
Daar
is ook mense wat mooi ideale koester, maar wat van meet of aan hulleself
oortuig dat hulle dit nie kan bereik nie. Hulle kla dan later dat hulle nooit
die geleentheid gehad het nie, terwyl hulle in werklikheid net nie volhard het
nie.
Sukses is nie die bereiking van 'n brandende ambisie nie,
maar eerder 'n diepe bevrediging in die strewe na 'n waardige doel. Daar is
mense wat alles bereik het wat die wêreld hulle kan bied, maar tog diep ongelukkig is, omdat hulle soek na iets wat aardse
skatte hulle nie kan gee nie.
Daarom wys Paulus vir Timoteus op “die goeie stryd van
die geloof” en die ideaal van “die ewige lewe” — dit is die goud van die lewe.
Stel gedurig jou mikpunt vorentoe en opwaarts, sodat jy 'n geestelike peil kan bereik waar jy so totaal aan God oorgegee is, dat Hy sy doel met jou
lewe kan bereik.
Ek dank U, my Verlosser, dat my sukses nie van die wêreld afhang nie,
maar van die mate waarin ek my aan u Heilige Gees oorgee.
No comments:
Post a Comment