Friday, 19 October 2018

Oordenking - Unieke skepping van God


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

UNIEKE SKEPPING VAN GOD

Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het (Est 4:14)

"Wie is ek?" is 'n vraag wat jy nie kan ontwyk nie en wat jy van jou jeug tot jou gryse ouderdom sal vra. Jy is skepping van God; na sy beeld het Hy jou geskape — al is die beeld dan deur die sonde geskend. Jy is Koningskind; prins of prinses, en jy word geroep om waardig hierdie koninklike kindskap uit te leef.

Jy is uniek — God maak nie duplikate nie. Wetenskaplikes beweer dat geen twee blare aan 'n boom dieselfde is nie; hoeveel te meer sal God nie aan sy kinders 'n eie identiteit, aard en persoonlikheid gee nie? Geen mens op aarde kan jou plek inneem nie. Daarom mag jy jou nooit laat verswelg deur die naamlose, gesiglose, identiteitslose massa nie.

Die opdrag om jouself te wees is nie 'n vrypas vir hoogmoed of self­verheffing nie, maar genade van God en 'n oproep om waardig en met selfvertroue te lewe. Jy hoef nie iemand anders se lewenstyl na te boots nie. Christus is jou voorbeeld.

'n Praktiese geloof in Jesus Christus lei tot die ontdekking van jou ware self. Vals hoogmoed; minderwaardigheid wat jou geestelike groei vertraag; onsuiwere waardes wat jou lewensperspektief belemmer — dit alles word oorwin en gesuiwer deur die krag wat Christus jou skenk.

Ek word aanbiddend stil voor U, Here Jesus, sodat U my deur u Heilige Gees kan leer om myself te wees.

Friday, 12 October 2018

Oordenking - Gryp die dag


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

GRYP DIE DAG!

Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom (Ps 90:12)

Vandag is 'n onbeskryflike gawe van God aan jou. Alles sal natuurlik nie voorspoedig verloop nie en jy sal nie noodwendig vry wees van versoe­kings en beproewings nie. Maar as jy met dankbaarheid die gawe van die Skepper aanvaar, sal jy ook bewus word van sy genade in jou lewe. Hy maak die ongelyke plekke glad en die krom paaie reguit.

Jy kan jou jare tel volgens die syfer of volgens die inhoud daarvan. Volgens die inhoud kan 'n lang lewe kort wees en 'n kort lewe lank. 'n Lang lewe wat leeg is aan geloof, seën vir ander, liefde, arbeid en ge­nade, kan kort wees as God sy meetsnoer daarlangs lê. Dit is hoe ek elke oomblik van elke dag benut wat bepaal wat die kwaliteit van my lewe is.

In sy onmeetlike genade laat God dit aan jou oor om te besluit hoe vandag sal wees. Moontlik het jy reeds met vrees en bewing gedink aan al die dinge wat verkeerd kan loop; die teenspoed wat jou kan inhaal en die rampe wat net om die draai wag. Miskien begin jy alreeds moedeloos en terneergedruk voel voordat die dag begin het. Hierdie soort gedagte­patroon is teenproduktief en laat jou saam met Job sê: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref” (Job 3:25).

Vertrou op die Here en dank Hom vir elke nuwe dag.

Here, dankie vir die voorreg om hierdie nuwe dag tot u eer te gebruik en dit met ander te deel. Dankie dat my tye in u hand is.

Friday, 5 October 2018

Oordenking - Produktiewe gebed


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Produktiewe Gebed

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie (Jes 59:1)

Vir baie kinders van die Here verloop gebed en bepeinsing haastig en onproduktief. Dit word dikwels beskou as dissiplines van die gees wat alleen beoefen word as jy genoeg tyd daarvoor het — 'n soort assuransie teen ramp en ongeluk.

Gebed is om God se wil vir jou lewe te ontdek en nie om die wil van God te buig om by jou begeertes aan te pas nie.

Voordat die seën van gebed jou ryke besit kan word, moet die tegniek van gebed gekweek en getrou beoefen word.

Dit is waar dat jy in enige situasie kan bid. Dit is ongetwyfeld ook waar dat enige taak wat konsensieus afgehandel word, 'n vorm van gebed is. Dit is moontlik om in die krioelende stadsverkeer deur 'n stil gebed van God se teenwoordigheid bewus te word.

Maar tyd wat in stilte en alleen met God deurgebring word, is die fondament van gebed.

Na so 'n tydjie in die verborge saam met God, gaan jy kalm en ewe­wigtig die lewe tegemoet. Die morele keuses van die lewe word duideli­ker omlyn en jy het 'n meer besliste bewussyn van die leiding van God in jou lewe. Jy het die vertroue om enigiets te hanteer wat die dag mag oplewer en jy wandel met blymoedigheid op jou lewenspad.

Here, laat niks my beroof van die kosbare tyd wat ek met U alleen kan deurbring nie. Ek vra dit deur Jesus Christus, wat my Voorspraak by U is.