Friday, 19 October 2018

Oordenking - Unieke skepping van God


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

UNIEKE SKEPPING VAN GOD

Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het (Est 4:14)

"Wie is ek?" is 'n vraag wat jy nie kan ontwyk nie en wat jy van jou jeug tot jou gryse ouderdom sal vra. Jy is skepping van God; na sy beeld het Hy jou geskape — al is die beeld dan deur die sonde geskend. Jy is Koningskind; prins of prinses, en jy word geroep om waardig hierdie koninklike kindskap uit te leef.

Jy is uniek — God maak nie duplikate nie. Wetenskaplikes beweer dat geen twee blare aan 'n boom dieselfde is nie; hoeveel te meer sal God nie aan sy kinders 'n eie identiteit, aard en persoonlikheid gee nie? Geen mens op aarde kan jou plek inneem nie. Daarom mag jy jou nooit laat verswelg deur die naamlose, gesiglose, identiteitslose massa nie.

Die opdrag om jouself te wees is nie 'n vrypas vir hoogmoed of self­verheffing nie, maar genade van God en 'n oproep om waardig en met selfvertroue te lewe. Jy hoef nie iemand anders se lewenstyl na te boots nie. Christus is jou voorbeeld.

'n Praktiese geloof in Jesus Christus lei tot die ontdekking van jou ware self. Vals hoogmoed; minderwaardigheid wat jou geestelike groei vertraag; onsuiwere waardes wat jou lewensperspektief belemmer — dit alles word oorwin en gesuiwer deur die krag wat Christus jou skenk.

Ek word aanbiddend stil voor U, Here Jesus, sodat U my deur u Heilige Gees kan leer om myself te wees.

No comments:

Post a Comment