Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
GRYP DIE DAG!
Leer ons ons dae so
gebruik dat ons wysheid bekom (Ps 90:12)
Vandag is 'n onbeskryflike gawe van
God aan jou. Alles sal natuurlik nie voorspoedig verloop nie en jy sal nie
noodwendig vry wees van versoekings en beproewings nie. Maar as jy met
dankbaarheid die gawe van die Skepper aanvaar, sal jy ook bewus word van sy
genade in jou lewe. Hy maak die ongelyke plekke glad en die krom paaie reguit.
Jy kan jou jare tel volgens die
syfer of volgens die inhoud daarvan. Volgens die inhoud kan 'n lang lewe kort wees en 'n kort
lewe lank. 'n Lang lewe wat leeg is aan geloof, seën vir ander, liefde, arbeid
en genade, kan kort wees as God sy meetsnoer daarlangs lê. Dit is hoe ek elke
oomblik van elke dag benut wat bepaal wat die kwaliteit van my lewe is.
In sy onmeetlike genade laat God dit
aan jou oor om te besluit hoe vandag sal wees. Moontlik het jy reeds met vrees
en bewing gedink aan al die dinge wat verkeerd kan loop; die teenspoed wat jou
kan inhaal en die rampe wat net om die draai wag. Miskien begin jy alreeds
moedeloos en terneergedruk voel voordat die dag begin het. Hierdie soort
gedagtepatroon is teenproduktief en laat jou saam met Job sê: “Wat ek gevrees
het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref” (Job 3:25).
Vertrou op die Here en dank Hom vir
elke nuwe dag.
Here, dankie vir die voorreg om hierdie nuwe
dag tot u eer te gebruik en dit met ander te deel. Dankie dat my tye in u hand
is.
No comments:
Post a Comment