Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Wat is God se wil in my lewe?
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk
word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal
julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik
en volmaak is (Rom 12:2)
Dit is maklik om te praat oor die
wil van God, maar dit is iets heel anders om sy wil te ken en dit te doen.
Sommige toegewyde kinders van die Here het 'n besondere verhouding met die Here
en daar is by hulle hoegenaamd geen twyfel oor wat sy wil vir hulle is nie.
Ander weer is net so toegewyd, maar dit lyk asof hulle in 'n doolhof van
onsekerheid leef oor wat die wil van God vir hulle lewe is.
As jy besig is om te soek na God se wil vir jou, staak
vir 'n wyle jou soektog. Bid dat God jou "denke sal vernuwe".
Konsentreer jou denke en gemoed op Hom. Jy moet God ken voordat jy sy wil kan
ken! Dan eers kan jy sy weg ken en Hom gehoorsaam wees.
Maar bo alles moet jy Hom van harte
liefhê. Liefde is die sleutel wat die poort na sy pad vir jou ontsluit.
Ontwikkel 'n steeds toenemende liefde vir Hom. Dit gee 'n mens soveel vertroue
om te weet dat, hoe groot my liefde vir Hom ook al mag wees, sy liefde vir my
altyd groter is.
Wanneer liefde vir die Meester en onwrikbare vertroue in
Hom jou denke beheers en jou geestelike sensitief maak vir sy leiding, word sy
wil aan jou ontvou.
Wag gedulig en biddend wanneer jy twyfel oor wat God se
wil vir jou is. God skenk leiding aan hulle wat nie ongeduldig raak nie.
Getroue Leidsman, deur liefde en vertroue
soek ek u heilige en volmaakte wil vir my lewe. Laat u Heilige Gees vryelik in
my werk.