Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Evaluering van die beste
Lê julle toe op die beste genadegawes (1 Kor 12:31)
Dit is net natuurlik om die beste
wat die lewe bied te begeer. Dit is egter lewensbelangrik om te weet wat die
"beste" is; om nie onbewus 'n substituut te aanvaar of om met die
tweede beste tevrede te wees nie. Mense streef dikwels na 'n doel wat na hulle
mening vir hulle die beste is, terwyl God vir hulle iets beters en edelers
bedoel het.
'n Vals sin vir waardes laat jou
dikwels na die tweede beste gryp. Dan maak jy die denkfout om rykdom as
belangriker as 'n edel karakter te beskou, om te ontvang beter as om te gee; om
te glo dat jy uit die lewe moet haal wat jy kan sonder om enigiets in te sit;
om te beweer dat die doel die middele heilig; om te dink dat net dwase
liefdesdiens verrig.
Om te weet wat vir jou die beste is,
moet jy jouself ken. Jy moet weet wat jy kan, wie jy is en wat jou potensiaal
is. Dit verg moed van 'n besondere kwaliteit om jou eie tekortkominge nugter
te sien en te erken; om jou foute te verstaan en te bely; om beslis te wees om
volgens God se norme doelstellings te stel: eerlikheid; liefde; reinheid en
onselfsugtigheid.
Jy sal nie altyd daaraan kan voldoen
nie, maar dit sal so 'n impak op jou lewe hê dat jy sal uitvind dat God se
beste vir jou alles oortref wat jy vir jouself kan begeer.
Gee my die wysheid, Here Jesus, om alleen met die beste tevrede te wees,
deur te streef na u waardes en beginsels.
No comments:
Post a Comment