Friday, 9 November 2018

Oordenking - Die Toekoms word deur die hede bepaal


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

DIE TOEKOMS WORD DEUR DIE HEDE BEPAAL

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie" (Pred 12:1)

As jy vandag onwaardige gedagtes koester en 'n lewe van bedrog ly,
moet jy nie verwag om vrede en waarheid en voorspoed te ondervind in die dae wat voorlê nie.

Die wet van oorsaak en gevolg is selfs vir die kinders van die Here onverbiddelik. Jy kan nie negatiewe gedagtes saai om positiewe dade te oes nie. Baie mense leef nie, maar bestaan slegs. Hulle koester die ydele hoop dat op die een of ander manier, iewers in die toekoms, die lewe aan hulle vervulling en vreugde sal skenk. Jou toekomstige geluk hang direk of van hoe jy vandag dink en wat jy vandag doen. Die hede is 'n produk van die verlede en ook besig om jou toekoms te bepaal.

Vandag is werklik die belangrikste dag in jou lewe. Daarom behoort jy elke dag jou potensiaal tot die maksimum te benut. So lê jy 'n stewige fondament vir die toekoms. So skep jy gelukkige herinneringe vir die dag wanneer vandag jou verlede is.

Dan benader jy die toekoms positief en met die lewende Christus as middelpunt van jou denke en emosies, begin jy skeppend en onderne­mend te lewe. Jou toekomsbenadering is gelowig, dinamies en positief.

Here, help my om vandag te gebruik om te bou vir die toekoms en lei my deur u Heilige Gees.


No comments:

Post a Comment