Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Kerk-wees
Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in
herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die
volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus (1 Tessalonisense 1:2-3)
Vir Paulus was die kerk
van die begin af nooit sinoniem met bepaalde strukture, ordes of byeenkomste nie. Daar was inderdaad baie
heilige geboue in die stede wat hy as voorbeelde kon gebruik om aan die
verskillende kerke wat hy geplant het gestalte te gee. Maar toe kies Paulus
lynreg teen hierdie modelle in vir 'n familiemodel om die eie aard van die kerk
te vergestalt. Vir hom was die kerk die groeiende, versorgende familie van God
waar mense mekaar opbou, koester en liefhet. Gesonde families leef tog saam in
harmonie. Hulle bid vir mekaar; dien mekaar; vermaan mekaar; bemoedig mekaar;
beskerm mekaar se goeie naam; vertrou mekaar en ondersteun mekaar. Hulle is
die nuwe volk van God hier in die laaste dae tussen die eerste en tweede koms
van Christus.
Ongelukkig het die kerk vanaf die vierde eeu
verander in 'n statiese instelling. Al die vernaamste godsdienstige aktiwiteite
het verskuif vanaf woonhuise na aparte geboue wat spesiaal vir hierdie doel
ontwerp is. Geestelike leiers het professionele figure geword. Kortom, die amp
van geestelike voorganger het in 'n voltydse beroep verander terwyl die res
van die kerk eintlik maar net in "deeltydse diens" was vir die Here.
Dis 'n fout. Kerkwees gaan vir die Nuwe Testament oor die regte manier van leef
saam met Jesus en sy mense. En dit gebeur voltyds, en deur verhoudings! Boonop
gebeur dit daagliks en aanhoudend. Die kerk leef. Dis 'n dinamiese, lewende
familie van God wat deur die krag van die Heilige Gees begelei word. Die kerk is
gewone mense wat in die kragveld van die Almagtige leef en beweeg. Wat 'n eer
om deel van die lewende liggaam van Christus te mag wees.