Friday, 6 September 2019

Oordenking - Liefde, die enigste goeie medisyne vir ons verhoudingspyne

Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Liefde, die enigste goeie medisyne vir ons verhoudingspyne
Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Johannes 3:17)
Liefde is nie net gevoelsmatig nie; veral nie daardie liefde waaroor die apostel Johannes skryf nie. Om elke hoek en draai in sy Evangelie en briewe skryf hy oor God se agape (liefde) vir mense en oor ons agape vir mekaar. Agape kan by Johannes ook vertaal word as onvoorwaardelike lojaliteit. Die eerste Johannes-brief verwoord dit as God se absolute lojaliteit aan stukkende, gevalle mense. Trouens, Johannes se basiese samevatting van God se karakter is sy bekende woorde: “God is liefde” (1 Joh. 4:8). Hierdie liefde is nie net 'n goeie emosie van sy kant af jeens ons nie. God se liefde is verhoudings en dade. Daarom gebeur God se liefde op 'n groot en grootse manier volgens Johannes as Hy vir Christus op 'n epogmakende reis aarde toe stuur om vir-altyd-lewe te kom uitdeel (4:10).
God se liefde het 'n nuwe identiteit tot gevolg vir elkeen wat die getuienis oor Christus gelowig aanvaar. Hulle status verander na kinders van God (3:1). Hulle word deel van God se nuwe aardse familie wat in die dampkring van sy liefde leef. Hulle beliggaam God se karakter binne nuwe agape-aangedrewe verhou-dings. Die maniere hoe gelowiges teenoor mekaar en ander leef, is die vernaamste sigbare bewys van God se agape in hulle lewe. Ander beleef verhoudingsmatig dat hulle onvoorwaardelik lojaal aan God is (4:20). Interessant genoeg maak Johannes in die eerste Johannes-brief net een konkrete toepassing oor hoe agape op voetsoolvlak lyk. In 3:17 skryf hy naamlik dat mense wat aardse besittings het en ander gelowiges sien gebrek ly sonder om diep medelye met hulle te hĂȘ, 'n leuen leef. Kortom, liefde moet hande en voete kry.

No comments:

Post a Comment