Friday, 27 September 2019

Oordenking - Kerk-wees


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Kerk-wees

Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volhar­ding van julle hoop op ons Here Jesus Christus (1 Tessalonisense 1:2-3)

Vir Paulus was die kerk van die begin af nooit sinoniem met bepaalde strukture, ordes of byeenkomste nie. Daar was inderdaad baie heilige geboue in die stede wat hy as voorbeelde kon gebruik om aan die verskillende kerke wat hy geplant het gestalte te gee. Maar toe kies Paulus lynreg teen hierdie modelle in vir 'n familiemodel om die eie aard van die kerk te vergestalt. Vir hom was die kerk die groeiende, versorgende fami­lie van God waar mense mekaar opbou, koester en liefhet. Ge­sonde families leef tog saam in harmonie. Hulle bid vir mekaar; dien mekaar; vermaan mekaar; bemoedig mekaar; beskerm me­kaar se goeie naam; vertrou mekaar en ondersteun mekaar. Hulle is die nuwe volk van God hier in die laaste dae tussen die eerste en tweede koms van Christus.

Ongelukkig het die kerk vanaf die vierde eeu verander in 'n statiese instelling. Al die vernaamste godsdienstige aktiwiteite het verskuif vanaf woonhuise na aparte geboue wat spesiaal vir hierdie doel ontwerp is. Geestelike leiers het professionele figure geword. Kortom, die amp van geestelike voorganger het in 'n vol­tydse beroep verander terwyl die res van die kerk eintlik maar net in "deeltydse diens" was vir die Here. Dis 'n fout. Kerkwees gaan vir die Nuwe Testament oor die regte manier van leef saam met Jesus en sy mense. En dit gebeur voltyds, en deur verhoudings! Boonop gebeur dit daagliks en aanhoudend. Die kerk leef. Dis 'n dinamiese, lewende familie van God wat deur die krag van die Heilige Gees begelei word. Die kerk is gewone mense wat in die kragveld van die Almagtige leef en beweeg. Wat 'n eer om deel van die lewende liggaam van Christus te mag wees.

No comments:

Post a Comment