Thursday, 7 November 2019

Oordenking - Breekbaar, hanteer versigtig

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Breekbaar, hanteer versigtig

Hulle wat geweld en verwoesting in hulle mooi huise herberg, weet nie hoe om reg te doen nie, sê die Here. - Amos 3:10

Opbou is die hartklop van ons liefde-aangedrewe verhoudings met ander gelowiges. Ons moet onsself as proaktiewe bouers in hulle lewens sien. Ons boumateriaal is daardie gawes wat die Gees aan ons gegee het. Ons moet in ander gelowiges wat oor ons pad kom 'n stukkie bouwerk doen sodat hulle die Here met nog groter toewyding sal dien. Deur ons opbouende woorde; ons gebede; ons geloof; ons leierskap; ons onderrig; ons wysheid; ons onderskeidingsvermoë; ons vermanings, of watter ander gawes die Here aan ons gegee het, moet ons belê in hulle lewens. Maar dan mag ons dit nie sien as take wat ons moet uitvoer nie. Ons moet ander gelowiges as unieke mense in eie reg sien en hulle met respek behandel. Ons moet hulle geloof sterk maak sodat hulle nog groter hoogtes in God se diens kan bereik.

Het jy al opgemerk dat daar op sekere houers die woord "Breekbaar" staan. Soms staan daar nog twee ander woorde hierby: "Hanteer versigtig." Ek wonder hoekom ons sulke woorde op lewelose houers plaas, maar nooit op lewende mense nie. Mense is ewe breekbaar as al daardie glasware wat veilig in sulke houers verpak word. Dinge soos misdaad, siekte en verhoudings wat op die rotse geloop het, breek mense. Dis hoekom die Here ons as lewende geskenke aan mekaar gegee het. Ons moet mekaar se wonde help verbind en die laste van mekaar se skouers aftel. Ons moet veilige skuilplekke wees vir mekaar. Dit is die Here se doel dat sy kerk op aarde 'n genesende gemeenskap moet wees waar sagtheid, opbou en liefde voortdurend wen. Stukkendes moet hier ontdek dat ander mense daardie plakker op hulle raakgelees het wat sê: "Breekbaar. Hanteer versigtig." Hulle moet in dieselfde asem beleef dat mense dit ook doen.

No comments:

Post a Comment