Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Bou in ander se lewens
Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar
die een wat profeteer, bou die gemeente op.(1 Korintiërs 14:4)
Die Here se merkteken vir goeie verhoudings; daardie soort wat op agape-liefde
geskoei is, is opbou. In 1 Korintiërs 14 vertel Paulus dat die belangrikste
gawes van die Heilige Gees juis daardie is wat ons help om ander se geloof op
te bou. Die doel van die Gees se gawes is om ons te laat wegkyk van onsself.
Ons is deur die Here omskep om ander se geloof te versterk en hulle lewens nog
duideliker op God se roete te rig. Opbou is die basiese onderbou van alle
gesonde verhoudings volgens God. Ons het al gesê dat goeie verhoudings begin
wanneer ons die keuse maak om oop en beskikbaar te wees vir ander omdat ons
hulle as beelddraers van God begin raaksien, sê ons vandag vir mekaar dat goeie
verhoudings is om ander se geloof te help opbou.
Opbou is 'n aktiewe, doelbewuste ingesteldheid aan ons kant. Dit vra
dat ons mekaar as bouwerke van die Almagtige sien. Maar dan moet ons besef
hulle is onder lewenslange konstruksie. Die Here se werk in ander rondom ons is
nog lank nie klaar nie. Deur sy Gees as Meesterbouer versier Hy hulle lewens.
Maar Hy gebruik mense hiervoor, mense soos ek en jy. Hy vra van ons om ander
gelowiges tot sy eer te help vorm. Hoe? Deur net daar te wees vir hulle. Deur
oop te wees vir hulle. Deur hulle as beelddraers en onvoltooide bouprogramme
van die Here te sien. As ons dit doen, verander ons ingesteldheid jeens hulle vanaf
foutvinderigheid en hooghartigheid na konstruktiewe betrokkenheid. Dan kyk ons
nie van bo op hulle neer nie. Nee, dan kyk ons op na hulle. Van dan af is ons
woorde nie gevaarlike wapens nie, maar goeie medisyne. Dan bemoedig, vertroos
en vermaan ons hulle met die liefde van Christus.
No comments:
Post a Comment