Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
My hoogste oogmerk
Nee, beywer julle allereers vir die
koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge
gee. (Matt. 6:33)
Hoe groot is jy
in jou eie oë? In hoe 'n mate word jou gedagtes heeltemal opgeneem deur slegte
dinge wat in die verlede gebeur het? Waaraan spandeer jy die meeste tyd?
Die grootste
Leermeester van alle tye sê dat ons hoogste prioriteit die koninkryk van God en
die wil van God moet wees. Wanneer God die eerste plek in 'n mens se lewe
inneem, beteken dit dat jy eerste na Hom sal gaan as jy hulp nodig het. Dan sal
sy wil voortdurend in jou gedagtes wees. Sy liefde en genade sal vir jou tot
voorbeeld wees. Jy sal Hom in alles
dien en in alles aan Hom gehoorsaam wil wees.
Wat is regtig
vir jou belangrik? Mense, materiële dinge, behoeftes en begeertes is alles besig om vir die belangrikste plek in jou
lewe te wedywer. As jy nie doelbewus vir God die eerste plek op elke terrein
van jou lewe gee nie, gaan dit vir enige van die ander dinge maklik wees om Hom
van sy ereplek te beroof.
Kom ons doen 'n
eenvoudige eksperiment. Ek dink jy sal met my saamstem dat God, jou werk en
jou gesin die belangrikste prioriteite op jou lysie is — in daardie volgorde.
Maar nou wil ek jou 'n belangrike vraag vra: Hoeveel tyd spandeer jy aan elkeen
van daardie drie? Tydgewys is dit waarskynlik presies die omgekeerde: gesin,
werk, God. Dit is natuurlik nie heeltemal so eenvoudig nie, want ook 'n mens se
werk en gesin is deel van God se plan vir jou lewe. En tog gee dit jou 'n
aanduiding van hoe die prioriteite en jou tyd dikwels nie met mekaar klop nie.
Vandag sal jy
weer geleentheid kry om jou tyd en jou energie te spandeer soos jy wil. Wil jy
nie die raadgewing van die grootste Leermeester van alle tye volg nie?