Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Hou moed en wees dapper
Hou moed en
wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle
God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie
alleen laat nie. (Deut. 31:6)
Israel het baie herinneringe,
ondervindinge en lesse gehad wat hulle op die pad tussen Egipte en die beloofde
land met hulle saamgedra het. Almal daarvan was nie altyd so aangenaam en
positief nie. Dieselfde geld vir jou en vir my. Sommige van ons het self 'n
veelbewoë verlede gehad. 'n Mens word soms eintlik opnuut weer bang as jy
daaraan terugdink.
Dieselfde geld
egter ten opsigte van die toekoms. Toe hulle aan die groot taak wat vir hulle
voorgelê het, gedink het, het die Israeliete seker by tye gebewe van angs.
Onsekerheid maak 'n mens mos bang. Dis veral wanneer jy weet dat daar groot
gevare op die pad vorentoe wag, dat 'n mens bang en onseker word. Dit is in
sulke tye dat ek en jy — net soos die Israeliete destyds — graag die
versekering wil hê dat die Here by jou is.
Dit is presies
hierdie versekering wat Moses nou as mondstuk van die Here vir die Israeliete
gee. Hy sê dat hulle kan moedhou en dapper wees. Hulle hoef nie bang te wees of
te skrik nie, want die Here gaan saam met hulle. Hy sal hulle nooit in die
steek laat nie. Aan die hand van die Here glimlag die toekoms mos vir 'n mens.
Dan sien jy sommer kans om groot storms te trotseer en berge uit te klim as dit
moet. Is dit nie waar nie?
Wat is die
dinge wat jou bangmaak en jou jou moed ontneem? Wie is die mense wat vir jou 'n
bedreiging is? Moenie dat jou verlede Of die toekoms langer vir jou soos 'n
meulsteen om jou nek bly hang nie. Die Here is mos by sy kinders. Hy sal jou
ook nie in die steek laat nie. Hou dus vas aan die beloftes in sy Woord! Eis
die versekering van sy teenwoordigheid waarvan Hy ons op so baie plekke
verseker, vandag opnuut vir jou persoonlik op met die oog op môre.
No comments:
Post a Comment