Friday, 18 March 2016

Oordenking - My hoogste oogmerk

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

My hoogste oogmerk

Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. (Matt. 6:33)

Hoe groot is jy in jou eie oë? In hoe 'n mate word jou gedagtes heeltemal opgeneem deur slegte dinge wat in die verlede gebeur het? Waaraan spandeer jy die meeste tyd?

Die grootste Leermeester van alle tye sê dat ons hoogste prioriteit die koninkryk van God en die wil van God moet wees. Wanneer God die eerste plek in 'n mens se lewe inneem, beteken dit dat jy eerste na Hom sal gaan as jy hulp nodig het. Dan sal sy wil voortdurend in jou gedagtes wees. Sy liefde en genade sal vir jou tot voorbeeld wees. Jy sal Hom in alles dien en in alles aan Hom gehoorsaam wil wees.

Wat is regtig vir jou belangrik? Mense, materiële dinge, behoeftes en begeertes is alles besig om vir die belangrikste plek in jou lewe te wedywer. As jy nie doelbewus vir God die eerste plek op elke terrein van jou lewe gee nie, gaan dit vir enige van die ander dinge maklik wees om Hom van sy ereplek te beroof.

Kom ons doen 'n eenvoudige eksperiment. Ek dink jy sal met my saam­stem dat God, jou werk en jou gesin die belangrikste prioriteite op jou ly­sie is — in daardie volgorde. Maar nou wil ek jou 'n belangrike vraag vra: Hoeveel tyd spandeer jy aan elkeen van daardie drie? Tydgewys is dit waarskynlik presies die omgekeerde: gesin, werk, God. Dit is natuurlik nie heeltemal so eenvoudig nie, want ook 'n mens se werk en gesin is deel van God se plan vir jou lewe. En tog gee dit jou 'n aanduiding van hoe die prioriteite en jou tyd dikwels nie met mekaar klop nie.


Vandag sal jy weer geleentheid kry om jou tyd en jou energie te spandeer soos jy wil. Wil jy nie die raadgewing van die grootste Leermeester van alle tye volg nie?

No comments:

Post a Comment