Friday, 11 March 2016

Oordenking - Jou hart en jou lewenskoers

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Jou hart en jou lewenskoers

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. (Spr. 4:23)

In 'n sekere sin bepaal 'n mens self jou toekoms. Oor dit wat agter lê, het jy geen beheer nie. Jy is egter wel in staat om besluite te neem wat in 'n groot mate jou lewensrigting sal bepaal. Daarom dat die Bybel sê ons moet versigtig wees met wat in ons hart omgaan, want uiteindelik is dit deurslaggewend vir ons lewensrigting.
Ons emosies — ons gevoelens van liefde en begeerte — bepaal in 'n groot mate hoe ons lewe. Daarom dat 'n mens altyd kan tyd maak vir din­ge waarvan jy hou en wat jy begeer. In die gedeelte sê die skrywer vir ons dat dit nodig is om ons emosies onder beheer te hou en te konsentreer op begeertes wat ons sal help om op die regte pad te bly.

Maak seker dat jou emosies jou in die regte rigting stuur. Beheer jou begeertes en moenie alles wat jy sien, probeer verkry nie. Kyk reguit voor jou en hou jou oë op jou eindbestemming gevestig. Dit bepaal jou lewens­koers. Dink maar net aan 'n kind of jongmens; die een in wie se hart 'n droom van sukses lewe, gaan waarskynlik sy droom verwesenlik. Die een wat geen droom in sy hart troetel nie, het nie 'n goeie kans om dit ver te bring in die lewe nie.


Onthou dat jy vandag in 'n posisie is as gevolg van besluite wat jy gis­ter geneem het, of nie geneem het nie. Net so sal jy môre in 'n situasie wees op grond van besluite wat jy vandag neem — of nie neem nie. Daarom dat dit so belangrik is dat 'n mens sal sorg dra van wat in jou hart omgaan. Daar is sekere gedagtes wat jy moet uitskakel sodra dit by jou opkom, en ander gedagtes wat jy moet troetel omdat dit 'n positiewe uitwerking op jou toekoms kan hê.

No comments:

Post a Comment