Friday, 24 June 2016

Oordenking - Jy het 'n herder

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Jy het ‘n herder

Die Here is my herder; ek kom niks kort nie. Selfs al gaan ek deur don­ker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. (Ps. 23:1, 4)

As 'n mens 'n teenvoeter vir spanning en stres wil soek, sal dit seker al­gehele tevredenheid en totale geborgenheid wees. En as jy vir God as jou herder het, kan hierdie tevredenheid en geborgenheid joune wees. Het jy al na 'n trop skape gekyk wat rustig in die veld wei? Dit is die beeld wat Dawid in Psalm 23 wil skilder: die van algehele rustigheid omdat daar Iemand is wat vir jou sorg. Dawid ken die eienskappe van hierdie herder baie goed, juis omdat by vir 'n lang ruk sy pa se skape opgepas het.

As God jou herder is, beteken dit dat jy nie langer vir jouself 'n pad hoef oop te veg in die kompeterende wêreld nie — jy het 'n herder wat die pad vir jou vooruitloop. Jy hoef nie langer bang te wees vir dreigende ge­vare nie, want jy het 'n herder wat jou te alle tye sal beskerm. God is vir jou 'n herder wat jou in groen weivelde laat rus en jou by waters bring waar daar vrede is. 'n Herder wat vir jou sy goedheid en liefde, sy krag en veiligheid wil kom aanbied — tot op die dag wanneer jy vir altyd in sy huis sal wees. 'n Herder wat jou só liefhet, dat Hy selfs gewillig is om sy lewe vir jou af te lê. En wanneer daar donker dieptes in jou lewe kom, ook dan is jou herder by jou om jou in sy arms deur die gevare te dra. Hy sal elke tree van die lewenspad met jou saamloop, tot anderkant die doodsvallei, waar jy vir altyd saam met Hom in die hemel sal wees.


In die hande van hierdie herder kan jy al jou stres en spanning laat, ­vir Hom kan jy van al jou vrese vertel. Hy sal vir jou sy vrede gee, omdat jy met Hom by jou nooit weer enigiets sal kortkom nie.

No comments:

Post a Comment