Friday, 26 August 2016

Oordenking - Wag op die Here

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Wag op die Here

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die ver­vulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag ... (Ps. 130:5-6)

Baie mense word in hierdie tye van werkloosheid en werkskaarste ge­dwing om lang ure te werk, om hulle vakansies ter syde te stel, om 'n hoë mate van stres by die werk te hanteer, net omdat hulle vrees dat hulle hulle werk sal verloor as hulle dit nie doen nie. Ander werk weer ure oor­tyd omdat hulle die hoogste sport van die leer in 'n rekordtyd wil bereik. Die gevolg van hierdie werkstres is dat gesinne verwaarloos word, huwe­liksprobleme kop uitsteek en mense in die hospitaal beland.

God kom vra nooit van jou die onmoontlike nie. Dit is nie sy wil dat jy jou moet ooreis nie. Gebruik jou geleenthede soos wat hulle hulle voor­doen, en moenie jou stresvlak opstoot omdat jy die onmoontlike wil vermag nie. Miskien bring jy juis op die oomblik jou dae in angs en bekommernis deur omdat jy die Here nie genoeg kan vertrou nie.


Dit is waar dat paniek en vertroue nie bymekaar hoort nie. As jy op die oomblik met paniek worstel, probeer om liewer op die Here te vertrou, wag rustig op Hom — op sy eie tyd sal Hy vir jou oplossings vir jou probleme gee. Maar let mooi op die voorwaarde: dan moet jy bereid wees om jou gespannendheid te laat staan, om kalm te word in sy teenwoordigheid, om vreedsaam op Hom te wag dat Hy op sy regte tyd die beloftes in sy Woord sal waar maak.

Friday, 19 August 2016

Oordenking - God is in beheer

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

GOD IS IN BEHEER

Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou. Die kosbare besitting wat werklik kan help, is wysheid en kennis; die rykdom waarop Sion hom kan verlaat, is die diens van die Here. (les. 33:6)

Wat sal jy doen as jou vierjarige spruit die nag deurhuil omdat hy bang is dat julle volgende week nie genoeg kos sal hê om te eet nie? Sekerlik half lag kry vir die lawwe klein patroon, maar hom ook verseker dat sy vrese ongegrond is. En tog, is dit nie presies wat ons doen wanneer ons so gespanne is oor die toekoms van ons land nie?

Daar heers op die oomblik 'n gees van ongekende angs en onsekerheid in Suid-Afrika. Selfs Christene is pessimisties oor wat in die toekoms vir ons voorlê. En dit is so onnodig. Die meeste van ons is gespanne oor die heersende geweld en onrus — alhoewel ons goed weet dat God in beheer is.

Dit is waar dat jy nie weet wat vir jou in die toekoms wag nie. Jou ergste vrese mag selfs bewaarheid word. Maar as jy aan God behoort hoef jy nie bang te wees nie. As jy gewillig is om in Hom te bly glo, om elke dag meer afhanklik van Hom te lewe, sal jy ontdek dat Hy vir jou nie net in die toekoms sal onderneem nie, maar ook jou huidige angs en depressie sal wegneem.


Net soos in die tyd toe Jesaja geleef het, is God vandag nog die enigste Een op wie ons kan vertrou. God wil vandag vir jou sy kennis en wysheid kom aanbied, sodat jy probleemsituasies wat in die toekoms op jou mag wag met sy hulp sal kan hanteer. Maar daar is 'n voorwaarde aan hierdie hulp verbonde: op jou beurt moet jy onderneem om Hom getrou te dien. Is jy bereid daartoe?

Friday, 5 August 2016

Oordenking - Wie se guns soek jy?

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Wie se guns soek jy?

…soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie. (Gal 1:10)

Een van die hoof oorsake van stres is die gevoel dat jy nie langer opgewasse is teen jou omstandighede is nie. Wat probeer jy regkry deur geduring van een plek na ‘n ander te hardloop? Wil jy graag God se guns hierdeur probeer wen, of dié van mense? In ‘n gemeenskap of gemeente is dit byna altyd so dat dié mense wat die besigste is, altyd vir nog meer werk kans sien. Is jy een van hierdie werkholiste? Hou op om jou te bekommer oor wat mense van jou dink – en hou eweneens op om jou af te sloof omdat mense te hoë verwagtinge van jou koester. Wat verwag die Here van jou?

Nou is dit so dat sommige van ons altyd eerste aanbied om te help. As ek dit nie doen nie, gaan niemand nie – het ek al baie maal gedink, en myself onnodig oorlaai. “As ek iets nié kan doen nie, het jy dit swaar,” het iemand altyd gesê, “maar as jy iets goed kan doen, het jy dit bitter!”

As jy ook een van daardie mense is wat altyd aanbied om nog iets by jou reeds vol program te voeg, word gerus ‘n rukkie stil en dink wie jy nou eintlik probeer plesier. Onthou as jou dae so vol is met werk wat moet klaarkom, is daar atyd iets wat afgeskeep word. Gewoonlik is hierdie “iets” jou stiltetyd. Dit is selfs moontlik dat jy so besig kan raak met die dinge van God dat jy nie meer tyd het vir die God van die dinge nie.


Leer ken dus jou eie beperkinge en leer om “nee” te sê. Besluit waar jy kan besnoei sodat jy weer ‘n slag genoeg tyd vir God sal hê. Want per slot van rekening is dit baie belangriker dat jy Hóm sal plesier as vir mense.