Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Wag op die Here
Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die
wagte op die môre wag ... (Ps. 130:5-6)
Baie mense word in hierdie
tye van werkloosheid en werkskaarste gedwing om lang ure te werk, om hulle
vakansies ter syde te stel, om 'n hoë mate van stres by die werk te hanteer,
net omdat hulle vrees dat hulle hulle werk sal verloor as hulle dit nie doen
nie. Ander werk weer ure oortyd omdat hulle die hoogste sport van die leer in
'n rekordtyd wil bereik. Die gevolg van hierdie werkstres is dat gesinne
verwaarloos word, huweliksprobleme kop uitsteek en mense in die hospitaal
beland.
God kom vra nooit van jou
die onmoontlike nie. Dit is nie sy wil dat jy jou moet ooreis nie. Gebruik jou
geleenthede soos wat hulle hulle voordoen, en moenie jou stresvlak opstoot
omdat jy die onmoontlike wil vermag nie. Miskien bring jy juis op die oomblik
jou dae in angs en bekommernis deur omdat jy die Here nie genoeg kan vertrou
nie.
Dit is waar dat paniek en
vertroue nie bymekaar hoort nie. As jy op die oomblik met paniek worstel,
probeer om liewer op die Here te vertrou, wag rustig op Hom — op sy eie tyd sal
Hy vir jou oplossings vir jou probleme gee. Maar let mooi op die voorwaarde:
dan moet jy bereid wees om jou gespannendheid te laat staan, om kalm te word in
sy teenwoordigheid, om vreedsaam op Hom te wag dat Hy op sy regte tyd die
beloftes in sy Woord sal waar maak.
No comments:
Post a Comment