Friday, 5 August 2016

Oordenking - Wie se guns soek jy?

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Wie se guns soek jy?

…soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie. (Gal 1:10)

Een van die hoof oorsake van stres is die gevoel dat jy nie langer opgewasse is teen jou omstandighede is nie. Wat probeer jy regkry deur geduring van een plek na ‘n ander te hardloop? Wil jy graag God se guns hierdeur probeer wen, of dié van mense? In ‘n gemeenskap of gemeente is dit byna altyd so dat dié mense wat die besigste is, altyd vir nog meer werk kans sien. Is jy een van hierdie werkholiste? Hou op om jou te bekommer oor wat mense van jou dink – en hou eweneens op om jou af te sloof omdat mense te hoë verwagtinge van jou koester. Wat verwag die Here van jou?

Nou is dit so dat sommige van ons altyd eerste aanbied om te help. As ek dit nie doen nie, gaan niemand nie – het ek al baie maal gedink, en myself onnodig oorlaai. “As ek iets nié kan doen nie, het jy dit swaar,” het iemand altyd gesê, “maar as jy iets goed kan doen, het jy dit bitter!”

As jy ook een van daardie mense is wat altyd aanbied om nog iets by jou reeds vol program te voeg, word gerus ‘n rukkie stil en dink wie jy nou eintlik probeer plesier. Onthou as jou dae so vol is met werk wat moet klaarkom, is daar atyd iets wat afgeskeep word. Gewoonlik is hierdie “iets” jou stiltetyd. Dit is selfs moontlik dat jy so besig kan raak met die dinge van God dat jy nie meer tyd het vir die God van die dinge nie.


Leer ken dus jou eie beperkinge en leer om “nee” te sê. Besluit waar jy kan besnoei sodat jy weer ‘n slag genoeg tyd vir God sal hê. Want per slot van rekening is dit baie belangriker dat jy Hóm sal plesier as vir mense.

No comments:

Post a Comment