Friday, 4 November 2016

Oordenking - Waar dit die meeste saak maak

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Waar dit die meeste saakmaak

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook (1 Joh. 3:1)

Tel jou seëninge een vir een, maar begin op die regte plek!

Daar verloop selde 'n gesprek onder Christene waar hierdie saak nie op een of ander manier aangeroer word nie. Ten spyte van al ons baie woorde oor God se seën, verstaan ons dit nie noodwendig almal op dieselfde ma­nier nie. Vir een persoon beteken seën die afwesigheid van probleme, ter­wyl dit vir 'n ander persoon weer op een of ander geluk dui wat  hy of sy te beurt geval het. 'n Ander sal dit weer aan 'n gebedsverhoring verbind.

Ten spyte van al die uiteenlopende opvattinge oor God se seën, bedoel die meeste mense minstens hiermee dat Hy iets goeds vir hulle gedoen het. Seën beteken dus dat jy in God se goeie boekies is; dat Hy nie rugkant eerste na jou toe staan nie. Maar dit is dikwels vir mense maar net 'n ty­delike gebeurtenis. Solank as wat dit reën, of solank as wat jy gesond is, is jy geseënd. Verdwyn hierdie dinge egter, dan verdwyn God se seën ook soos mis voor die son. Maar is dit waar? Is God se seën net afhanklik van ons menslike definisies daarvan?

Die Bybel sê natuurlik baie dinge oor hierdie saak. Maar die heel belang­rikste ding wat dit oor God se seën sê, is dat jy eers waarlik 'n geseënde is as jy die dag vir God as jou Vader ken. As jy glo dat Hy die kwaaivriendskap tussen jou en Hom vir altyd uit die weg geruim het omdat Christus in jou plek gesterf het, dan het jy deel aan die heel grootste seën wat God ooit aan 'n mens kan bewys. Want dan ken jy die heel belangrikste Persoon in die heelal op so 'n persoonlike vlak dat jy selfs vir Hom mag sê: "My Va­der." En boonop weet jy dat Hy dan sal terug antwoord: "My kind."


Die Here seën mens op baie maniere. Maar die belangrikste seën wat God ooit aan jou kan skenk, is die voorreg om lewenslank in sy teenwoor­digheid te mag deurbring. Beskou jy ook hierdie seën as die heel grootste geskenk wat jy nog ooit in jou lewe ontvang het?

No comments:

Post a Comment