Friday, 30 September 2016

Oordenking - Op God se skoot

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Op God se skoot

Geen versoeking as wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. (1 Kor 10:13)

Voel jy op die oomblik asof jy gedaan gespartel is? Het jy vir weke lank tevergeefs probeer om self jou probleme op te los, om self alles wat op jou wag, gedoen te kry, om self verantwoordelikheid te aanvaar vir alles wat in jou lewe verkeerd geloop het? Dan het dit vir jou tyd geword om boedel oor te gee. Tyd dat jy laat los en vir God toelaat om weer orde te skep uit die warboel waarin jou lewe op die oomblik verkeer.

Daar is net een plek waar 'n bang, onrustige kleuter rustig word, en dit is in die omarming op die skoot van haar ma.

Eien dus die belofte in Jesaja 66 vir jou persoonlik toe: So sê die Here: Ek laat vrede na haar toe aankom sons 'n rivier, Ek laat die rykdom van die nasies na haar toe stroom. hulle sal ... op haar skoot getroetel word. Soos 'n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel (Jes. 66:12-13).

Wanneer jou eie kragte opraak, is God se geweldige krag tot jou beskik­king. Hy wil jou graag help. Op God se skoot, in die sirkel van sy ewige arms, kan jy al jou stres, al die oorsake van jou depressie, al jou vrese en bekommernis agter jou laat, want daar is jy volkome veilig. Vir altyd.


No comments:

Post a Comment