Friday, 25 November 2016

Oordenking - Vol met vrede en blydskap

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Vol met vrede en blydskap

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom. 15:13)

Ons leef in 'n tyd waar die woorde: "Dit gaan goed", nie te veel gebruik word nie. En waar mense dit wel gebruik, kom jy in elk geval na 'n rukkie in hulle geselskap agter dat hulle dit nie te ernstig bedoel nie, aangesien hulle ook maar steen en been kla oor al die swaarkry wat die lewe na hul­le kant toe aangee.

Iemand wat God se groot genade in sy lewe ontdek het, is iemand wat egter 'n ander dimensie van die lewe leer ken het, en dit is dat hulle in­nerlike mens, of hulle binnekant, of hulle hart, of hoe jy dit ook al wil noem, onder splinternuwe bestuur staan. Hulle weet met ander woorde dat hulle onder die beheer van die lewende God is wat hulle van binne of volgemaak het met sy Heilige Gees. En hierdie wete maak mos die wêreldse verskil. Dit maak die verskil tussen 'n lewe wat vol vrede en rustigheid is en 'n lewe wat teen duiselingwekkende snelhede van die een leë plesier na die volgende voortjaag op soek na sin en betekenis.

Ongelukkig veroorsaak die gejaagde lewe dat baie Christene vandag hierdie innerlike dimensie van hulle lewe verwaarloos sodat hulle op die ou end eintlik ook maar net so aan die ronddobber is soos al die ongelowiges rondom hulle. Paulus bid daarom baie ernstig in Romeine 15:13 dat gelowi­ges God se seën in hulle hart sal ervaar. Wanneer ek en jy ook begin om hierdie gebed gereeld saam met hom te bid, dan raak ons lewe inderdaad al hoe voller nie met mismoedigheid en bitterheid nie, maar juis met God se vrede. Is dit nie 'n wonderlike wete dat God wil hê dat ons moet deel in sy eie blydskap en vrede nie. Hy wil juis hê dat ons reeds hier op aarde iets van sy eie Persoon in ons hart sal ervaar.


Monday, 21 November 2016

Oordenking - lid van die koninklike familie

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Lid van die koninklike familie

En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus ... (Rom. 8:17)

Kinders van 'n koning geniet voorregte wat gewone mense nie het nie, soos hoë aansien en status. Boonop deel hulle ook nog in die koning se mag en beskerming. Dieselfde geld ook vir Christene. Ons dien immers die Koning van die ganse heelal en die Here van alle here.

As koningskinders het ons vier en twintig uur per dag 'n verbindingslyn met God se hemelse troonsaal. Boonop het ons ook nog toegang tot die skatkamers van sy liefde, genade en beskerming. Deur gebed kan ons in 'n oogwink die afstand tussen hemel en aarde oorsteek en ons behoeftes aan sy voete gaan neerlê. By God is daar immers geen besetkodes vir ge­bede wat opreg na Hom toe kom nie. Daarom hoef ons nie soos kerkmuise of soos 'n klompie geestelike boemelaars te lewe nie. Nee, ons is God se eie bloedgekoopte kinders, en daarom ook sy erfgename.

By ons hemelse Vader erf ons nou reeds alles wat ons nodig het om el­ke dag soos koningskinders te lewe. Ons het byvoorbeeld nou reeds deel aan sy Gees, aan sy vryspraak, sy vrede en sy liefde. Ons is ook nou reeds oorwinnaars oor die sonde en ons weet ook dat die dood nie meer soos 'n wrede monster aan die einde van ons lewe vir ons staan en wag nie. Want ons het mos by Christus die ewige lewe as erfporsie gekry.

Terwyl ons partykeer na die Here se seën soek in dinge soos finansiële voorspoed, sukses en tydelike geluk, verbeur ons inderwaarheid sy heel grootste seën. Ons besef nie aldag dat ons reeds in God se paleis bly nie, bekleë met koningsklere wat spierwit gewas is deur die bloedrooi bloed van ons Heiland. Daarom kla ons oor klein dingetjies terwyl ons eintlik geestelike miljoenêrs is, mense wie se naam in God se eie testament as erfgename opgeskrywe staan.


Friday, 11 November 2016

Oordenking - Splinternuut

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Splinternuut
lemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. (2 Kor: 5:17)

Grimeermiddels lewer meestal net tydelike resultate op. Wanneer 'n vrou haar lipstiffie in die oggend aansit, weet sy maar alte goed dat sy hierdie oefening nog 'n keer of wat deur die loop van die dag sal moet herhaal as sy op haar beste wil bly lyk. Selfs die duurste kosmetiese ware hou maar net vir 'n kort tydjie.

Christus bring gelukkig nie net 'n paar kosmetiese veranderings aan wanneer Hy ons die slag kom nuutmaak nie. Nee, Hy kom maak ons heeltemal oor. En boonop hou Hy sy handewerke vir altyd in stand. Hy herskep ons tot 'n splinternuwe skepping, tot 'n nuwe wêreld in die kleine. In hierdie proses haal Hy ons ou, klipharde hart uit en plant 'n nuwe hart in die plek daarvan in wat ontvanklik is vir die werk van sy Gees.

Wat 'n heugelike dag as ek ontdek dat ek 'n herskepte mens is; dat my lewe onder nuwe bestuur staan omdat ek in Jesus glo. Hoe heerlik om te mag agterkom dat Christus my ou self saam met Horn laat kruisig en be­grawe het en dat ek ook saam met Hom uit die dood opgewek is. En dat ek boonop ook nog mag weet dat ek nou 'n hemelse burger is en dat my naam in die hemelse boeke aan die kredietkant, of as jy wil: aan die red­dingskant, met Jesus se eie bloed ingeskryf staan.

As mens die dag met Jesus Christus paaie gekruis het, is niks daarna ooit weer dieselfde nie. Dan verander alles. Dan stap jy van hierdie ont­moeting af weg as 'n nuwe mens met nuwe belangstellings en nuwe prio­riteite. Dan is jy waarlik 'n geseënde. Maar die belangrikste van alles: dan is jy iemand met die ewigheid as eindbestemming. Dan is jy op koers na die wenpaal toe, na jou permanente tuiste in jou vaderland in die hemel.


Friday, 4 November 2016

Oordenking - Waar dit die meeste saak maak

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Waar dit die meeste saakmaak

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook (1 Joh. 3:1)

Tel jou seëninge een vir een, maar begin op die regte plek!

Daar verloop selde 'n gesprek onder Christene waar hierdie saak nie op een of ander manier aangeroer word nie. Ten spyte van al ons baie woorde oor God se seën, verstaan ons dit nie noodwendig almal op dieselfde ma­nier nie. Vir een persoon beteken seën die afwesigheid van probleme, ter­wyl dit vir 'n ander persoon weer op een of ander geluk dui wat  hy of sy te beurt geval het. 'n Ander sal dit weer aan 'n gebedsverhoring verbind.

Ten spyte van al die uiteenlopende opvattinge oor God se seën, bedoel die meeste mense minstens hiermee dat Hy iets goeds vir hulle gedoen het. Seën beteken dus dat jy in God se goeie boekies is; dat Hy nie rugkant eerste na jou toe staan nie. Maar dit is dikwels vir mense maar net 'n ty­delike gebeurtenis. Solank as wat dit reën, of solank as wat jy gesond is, is jy geseënd. Verdwyn hierdie dinge egter, dan verdwyn God se seën ook soos mis voor die son. Maar is dit waar? Is God se seën net afhanklik van ons menslike definisies daarvan?

Die Bybel sê natuurlik baie dinge oor hierdie saak. Maar die heel belang­rikste ding wat dit oor God se seën sê, is dat jy eers waarlik 'n geseënde is as jy die dag vir God as jou Vader ken. As jy glo dat Hy die kwaaivriendskap tussen jou en Hom vir altyd uit die weg geruim het omdat Christus in jou plek gesterf het, dan het jy deel aan die heel grootste seën wat God ooit aan 'n mens kan bewys. Want dan ken jy die heel belangrikste Persoon in die heelal op so 'n persoonlike vlak dat jy selfs vir Hom mag sê: "My Va­der." En boonop weet jy dat Hy dan sal terug antwoord: "My kind."


Die Here seën mens op baie maniere. Maar die belangrikste seën wat God ooit aan jou kan skenk, is die voorreg om lewenslank in sy teenwoor­digheid te mag deurbring. Beskou jy ook hierdie seën as die heel grootste geskenk wat jy nog ooit in jou lewe ontvang het?