Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Lid van die koninklike familie
En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God,
erfgename saam met Christus ... (Rom. 8:17)
Kinders van 'n koning
geniet voorregte wat gewone mense nie het nie, soos hoë aansien en status.
Boonop deel hulle ook nog in die koning se mag en beskerming. Dieselfde geld
ook vir Christene. Ons dien immers die Koning van die ganse heelal en die Here
van alle here.
As koningskinders het ons
vier en twintig uur per dag 'n verbindingslyn met God se hemelse troonsaal.
Boonop het ons ook nog toegang tot die skatkamers van sy liefde, genade en
beskerming. Deur gebed kan ons in 'n oogwink die afstand tussen hemel en aarde
oorsteek en ons behoeftes aan sy voete gaan neerlê. By God is daar immers geen
besetkodes vir gebede wat opreg na Hom toe kom nie. Daarom hoef ons nie soos
kerkmuise of soos 'n klompie geestelike boemelaars te lewe nie. Nee, ons is God
se eie bloedgekoopte kinders, en daarom ook sy erfgename.
By ons hemelse Vader erf
ons nou reeds alles wat ons nodig het om elke dag soos koningskinders te lewe.
Ons het byvoorbeeld nou reeds deel aan sy Gees, aan sy vryspraak, sy vrede en
sy liefde. Ons is ook nou reeds oorwinnaars oor die sonde en ons weet ook dat
die dood nie meer soos 'n wrede monster aan die einde van ons lewe vir ons
staan en wag nie. Want ons het mos by Christus die ewige lewe as erfporsie
gekry.
Terwyl ons partykeer na die
Here se seën soek in dinge soos finansiële voorspoed, sukses en tydelike geluk,
verbeur ons inderwaarheid sy heel grootste seën. Ons besef nie aldag dat ons
reeds in God se paleis bly nie, bekleë met koningsklere wat spierwit gewas is
deur die bloedrooi bloed van ons Heiland. Daarom kla ons oor klein dingetjies
terwyl ons eintlik geestelike miljoenêrs is, mense wie se naam in God se eie
testament as erfgename opgeskrywe staan.
No comments:
Post a Comment