Friday, 11 November 2016

Oordenking - Splinternuut

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Splinternuut
lemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. (2 Kor: 5:17)

Grimeermiddels lewer meestal net tydelike resultate op. Wanneer 'n vrou haar lipstiffie in die oggend aansit, weet sy maar alte goed dat sy hierdie oefening nog 'n keer of wat deur die loop van die dag sal moet herhaal as sy op haar beste wil bly lyk. Selfs die duurste kosmetiese ware hou maar net vir 'n kort tydjie.

Christus bring gelukkig nie net 'n paar kosmetiese veranderings aan wanneer Hy ons die slag kom nuutmaak nie. Nee, Hy kom maak ons heeltemal oor. En boonop hou Hy sy handewerke vir altyd in stand. Hy herskep ons tot 'n splinternuwe skepping, tot 'n nuwe wêreld in die kleine. In hierdie proses haal Hy ons ou, klipharde hart uit en plant 'n nuwe hart in die plek daarvan in wat ontvanklik is vir die werk van sy Gees.

Wat 'n heugelike dag as ek ontdek dat ek 'n herskepte mens is; dat my lewe onder nuwe bestuur staan omdat ek in Jesus glo. Hoe heerlik om te mag agterkom dat Christus my ou self saam met Horn laat kruisig en be­grawe het en dat ek ook saam met Hom uit die dood opgewek is. En dat ek boonop ook nog mag weet dat ek nou 'n hemelse burger is en dat my naam in die hemelse boeke aan die kredietkant, of as jy wil: aan die red­dingskant, met Jesus se eie bloed ingeskryf staan.

As mens die dag met Jesus Christus paaie gekruis het, is niks daarna ooit weer dieselfde nie. Dan verander alles. Dan stap jy van hierdie ont­moeting af weg as 'n nuwe mens met nuwe belangstellings en nuwe prio­riteite. Dan is jy waarlik 'n geseënde. Maar die belangrikste van alles: dan is jy iemand met die ewigheid as eindbestemming. Dan is jy op koers na die wenpaal toe, na jou permanente tuiste in jou vaderland in die hemel.


No comments:

Post a Comment