Friday, 27 January 2017

Oordenking - God se Hemelse Waarborge

Liewe Vyfhoek-gelowige,

Lees gerus hierdie oordenking.

GOD SE HEMELSE WAARBORGE

Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys. (Ef. 1:14)

Die slagspreuk van 'n bekende sake-instelling het op 'n stadium gelui dat hul goeie naam die waarborg is dat jy altyd hoe kwaliteit produkte by hulle sal kan aankoop. 'n Waarborg is inderdaad baie belangrik wanneer mens een of ander kosbare artikel soos 'n motor of 'n duur implement wil aankoop. Gewoonlik doen jy dan twee dinge: Eerstens betaal jy 'n deposito as bewys van die erns van jou voornemens om daardie item te besit. En tweedens verlang jy ook 'n waarborg van die verkoper dat die item of pro­duk wat jy aangekoop het wel van hoogstaande kwaliteit is.

Deposito's en waarborge is nie maar net besigheidsterme nie. Nee, Paulus vertel vir ons in Efesiers 1:14 dat dit ook godsdienstige begrippe is. Hy sê hier dat God twee baie belangrike dinge vir ons kom doen het. Hy het die Heilige Gees as waarborg en as deposito aan ons gegee om ons te verseker dat ons die hemelse troonsaal sal haal. Kan jy dit glo? God ag ons klein ou mensies so belangrik dat Hy, die Koning van alle konings, bereid is om 'n deposito op ons lewe te kom betaal. Dit is nou nie meer ons wat van ons kant af een of ander deposito aan God moet gaan oorbetaal vir die voorreg om sy kinders te mag wees nie. Nee, Hy het die rolle net mooi kom omruil met sy lewende deposito in ons lewe.


Die Heilige Gees is terselfdertyd ook die waarborg van God se kant af dat die res van die feesmaal vir ons aan die ander kant van die graf in die nuwe Jerusalem wag. Die vreugde en blydskap wat ons reeds hier op aar­de as God se kinders mag beleef, is maar net die begin. Die groot fees lê eintlik nog voor. En die Gees is die hemelse waarborg dat ons elkeen wat Jesus as die Here ken, daar sal aankom. God se waarborg is immers in sy Naam geleë.

Friday, 20 January 2017

Oordenking - Nooit teen die planke nie

Liewe Vyfhoek-gelowige,

Lees gerus hierdie oordenking.

NOOIT TEEN DIE PLANKE NIE

Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en    Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here    
help hom op. (Ps. 37:23-24)

Die Bybel sê oor en oor vir ons dat God by ons as sy kinders bly. Daarom mag ons nie vir 'n enkele oomblik dink dat ons op ons eie stoom moet aansukkel deur die lewe nie. Nee, God is deurentyd by ons. Wanneer die son ons lewe verlig, maar ook wanneer die donkerte behoorlik op ons toesak, is Hy saam met ons onderweg.

Wat dan gemaak as die sonde my op 'n dag pootjie, of as een of ander groot krisis my lewe deurmekaar krap? Los die Here my dan alleen? Nee, gelukkig nie. Ek val dus nie uit sy hand uit as ek die slag struikel nie. As ek my lewe elke dag aan God se sorg toevertrou, het ek die versekering swart op wit in Psalm 37 dat die He­re my nie in die steek sal laat as ek die slag wel in die sonde neerslaan of deur 'n probleem ondergekry word nie. God belowe trouens dat Hy nie dan op sy eie sal aanstap en my sal los om self uit die gemors te probeer opstaan nie. Nee, Hy sal daar en dan omdraai en langs my kom hurk. Hy sê ook dat Hy sy Vaderhande sal uitsteek en my sal ophelp. Daarna kan ek weer saam met Hom in die holte van sy handpalm voortstap.

Watter wonderlike voorreg om 'n God te mag dien wat my nie telkens nog dieper in die modder intrap as ek op die grond lê nie; maar 'n God wat my diepste nood en seerkry raaksien en wat ook met my swakhede medelye kan hê. Sy ondersteuning in my "neerslaandae" is meer werd as al die goud in die wêreld. Watter seën is dit nie om sy kind te mag wees nie.


Thursday, 12 January 2017

Oordenking - Net een ry spore

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

NET EEN RY SPORE

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. (Joh. 10:28)

Miskien het jy ook al die kaartjie gelees van die twee rye spore. Dit ver­tel van die persoon wat twee rye spore in die sand gesien het, syne en God s'n. Toe hy egter in 'n krisis beland, het hy later opgemerk dat daar net een ry spore is, die van God. Met die aanbreek van sy krisis het God hom dus opgetel en verder gedra.

Hierdie verhaaltjie klink baie mooi. Maar dit is net die helfte van die waarheid. Die volle waarheid is dat daar altyd maar net een ry spore is, Christus s'n. Hy sê in Johannes 10 dat Hy ons elke dag dra, en nie net wanneer dit die slag met ons sleg gaan nie. Ons is elke dag in die Here se hand, daar waar Hy ons die heel beste kan sien. Hy sal ons ook nooit neer­sit nie, want as Hy ons die slag moet neersit om weer ons eie ry spore te begin loop, gaan ons ons met die landing bloedneus val en spoedig daarna ook verdwaal. Nee, Christus is elke dag by ons, of liewer: ons is elke dag in sy hand. Terwyl ons op die lewenspad voortstap, stap ons eintlik maar binne in sy hand rond. Niks of niemand kan ons ooit hier uithaal nie. Dit is wat Jesus self sê. Hy het immers so 'n verskriklike duur prys vir ons al­mal betaal dat Hy ons op geen ander plek as in sy eie handpalm wil hê nie.


Die Here se seëninge omring ons elke dag. Begin asseblief dan nou om jou geestelike oë reg in te stel sodat jy ook sal raaksien dat jy veilig in Christus se handpalm is. Hy sal jou hier bly vashou tot aan die einde van jou lewe.

Oordenking - GESEËNDES VOEL NOOIT ALLEEN NIE

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

GESEËNDES VOEL NOOIT ALLEEN NIE

En onthou: " ... Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (Matt. 28:20)

Vergeet jy net so maklik soos ek? Worstel jy ook soms met allerhande name en gesigte wat maar net nie bymekaar wil uitkom wanneer jy skielik 'n bekende gesig voor jou sien staan en jy nie die vaagste idee het waar jy hierdie persoon al ontmoet het nie?

Vergeetagtigheid raak ook ons geestelike lewe. Omdat ons God se belof­tes soms net so vinnig vergeet as wat ons dit hoor, verbeur ons dikwels sy seën. Die gevolg hiervan is dat ons dan met streepsakke vol ongelukkigheid en kleingeloof deur die lewe moet worstel. Jesus weet dit maar alte goed. Daarom het Hy in sy laaste preek op aarde beklemtoon dat ons een belangrike ding moet weet, en dit is dat Hy by ons is, ons dit moet raaksien dat Christus elke dag ons metgesel is tot wanneer die uurglas vir ons hier op aarde leegloop, en ook daarna

As daar een ding is wat Jesus nooit sal doen nie, dan is dit om sy rug op sy kinders te keer. Hy sê dat Hy tree vir tree by ons sal bly. Hy is elke dag by ons net om doodseker te maak dat ons nie verdwaal nie. Dit geld na­tuurlik nie slegs vir daardie dae wanneer ons naby aan Hom voel nie, maar ook vir daardie tye wanneer dit voel of ons sterrestelsels ver van God of verwyder is. Maar gelukkig hoef ons gevoelens nooit die barome­ter vir die hoeveelheid van God se seën in ons lewe te wees nie.

As jy die Here se seëninge regtig in jou lewe wil ontdek, dan moet jy leer om die regte dinge te onthou. En dit is om verby jou gevoelens en omstandighede te kyk en vir Christus op sy woord te neem as Hy sê dat Hy by jou is. Doen jy dit?