Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
NET EEN RY SPORE
Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore
gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. (Joh. 10:28)
Miskien
het jy ook al die kaartjie gelees van die twee rye spore. Dit vertel van die
persoon wat twee rye spore in die sand gesien het, syne en God s'n. Toe hy
egter in 'n krisis beland, het hy later opgemerk dat daar net een ry spore is,
die van God. Met die aanbreek van sy krisis het God hom dus opgetel en verder
gedra.
Hierdie verhaaltjie klink baie mooi. Maar dit is net die
helfte van die waarheid. Die volle waarheid is dat daar altyd maar net een ry
spore is, Christus s'n. Hy sê in Johannes 10 dat Hy ons elke dag dra, en nie
net wanneer dit die slag met ons sleg gaan nie. Ons is elke dag in die Here se
hand, daar waar Hy ons die heel beste kan sien. Hy sal ons ook nooit neersit
nie, want as Hy ons die slag moet neersit om weer ons eie ry spore te begin
loop, gaan ons ons met die landing bloedneus val en spoedig daarna ook
verdwaal. Nee, Christus is elke dag by ons, of liewer: ons is elke dag in sy
hand. Terwyl ons op die lewenspad voortstap, stap ons eintlik maar binne in sy
hand rond. Niks of niemand kan ons ooit hier uithaal nie. Dit is wat Jesus self
sê. Hy het immers so 'n verskriklike duur prys vir ons almal betaal dat Hy ons
op geen ander plek as in sy eie handpalm wil hê nie.
Die
Here se seëninge omring ons elke dag. Begin asseblief dan nou om jou geestelike
oë reg in te stel sodat jy ook sal raaksien dat jy veilig in Christus se
handpalm is. Hy sal jou hier bly vashou tot aan die einde van jou lewe.
No comments:
Post a Comment