Liewe Vyfhoek-gelowige,
Lees gerus hierdie oordenking.
NOOIT TEEN DIE
PLANKE NIE
Die Here bepaal die koers
van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en
Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here
help hom op. (Ps. 37:23-24)
Die Bybel sê oor en oor vir
ons dat God by ons as sy kinders bly. Daarom mag ons nie vir 'n enkele oomblik
dink dat ons op ons eie stoom moet aansukkel deur die lewe nie. Nee, God is
deurentyd by ons. Wanneer die son ons lewe verlig, maar ook wanneer die
donkerte behoorlik op ons toesak, is Hy saam met ons onderweg.
Wat dan gemaak as die sonde
my op 'n dag pootjie, of as een of ander groot krisis my lewe deurmekaar krap?
Los die Here my dan alleen? Nee, gelukkig nie. Ek val dus nie uit sy hand uit
as ek die slag struikel nie. As ek my lewe elke dag aan God se sorg toevertrou,
het ek die versekering swart op wit in Psalm 37 dat die Here my nie in die
steek sal laat as ek die slag wel in die sonde neerslaan of deur 'n probleem
ondergekry word nie. God belowe trouens dat Hy nie dan op sy eie sal aanstap en
my sal los om self uit die gemors te probeer opstaan nie. Nee, Hy sal daar en
dan omdraai en langs my kom hurk. Hy sê ook dat Hy sy Vaderhande sal uitsteek
en my sal ophelp. Daarna kan ek weer saam met Hom in die holte van sy handpalm
voortstap.
Watter wonderlike voorreg
om 'n God te mag dien wat my nie telkens nog dieper in die modder intrap as ek
op die grond lê nie; maar 'n God wat my diepste nood en seerkry raaksien en wat
ook met my swakhede medelye kan hê. Sy ondersteuning in my
"neerslaandae" is meer werd as al die goud in die wêreld. Watter seën
is dit nie om sy kind te mag wees nie.
No comments:
Post a Comment